Laat sy Liefde jou Lei: Waar’s ons vreugde heen?

Laat sy Liefde jou Lei: Waar’s ons vreugde heen? – Milanie Vosloo

Waar’s ons vreugde heen?

Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg: …vreugde … Galasiёrs 5:22

Soms wonder ek, waar is ons vreugde heen? Het ons toegelaat dat die wêreldse dinge en ons alledaagse bestaansdinge ons so besig hou dat ons nalaat om ons siele – die plek waar vreugde gebore word – ordentlik te voed? Is dit waarom ons so soms sommer net “af en misrabel” voel?

Ware en vervullende vreugde is nie moontlik sonder Christus – die bron van hemelse blydskap nie. Om God dus te vra vir ‘n gelukkige lewe is ‘n nuttelose gebed wanneer ons ons lewens sonder Hom leef. Slegs wanneer ons onsself volkome aan Hom oorgee en toelaat dat sy wil deur ons geleef word, sal ons ware vrede-vreugde beleef.

As jy dus voel of jou lewe vreugdeloos geword het, kan jy jouself vra of jy nie té veel probeer om op jou eie reg te kom nie. Dalk het jy vir ‘n tyd lank buite die sfeer van God se genade en leiding geleef en het dit weer tyd geword om sommer net voor Hom te kniel en te sê: Here, Ek is jammer dat ek soms vergeet om my lewe op U te bou. Vandag bid ek Psalm 86:4: Gee tog vir my blydskap, want na U is my verlange, Here.

Word elke dag minder jý en laat toe dat die Gees jou meer Hý maak. Gou sal jy ervaar dat jou mismoedigheid verdwyn en vreugde op ‘n verrassende manier jou lewe binne stroom.

Trooster-God, wees in beheer van my hart, denke en emosies asseblief.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo