Laat u koninkryk kom

The Bible is to the theologian what nature is to the man of science. It is his storehouse of facts – Charles Hodge

Laat u koninkryk kom

Ons sien God se Naam as heilig. Dit plaas ons in ‘n posisie van aanbidding – ons sien God as die Een wat algeheel heilig is. Dit bring ons op ons knieë voor Hom. Ons buig voor God soos ‘n onderdaan voor sy aardse koning buig. Daarom: Laat u koninkryk kom. Die eerste petisie vloei oor in die tweede een.

Jesus begin sy bediening met die aankondiging dat die koninkryk van God naby gekom het. Dit beteken dat in die verhaal van verlossing wat deur die Bybel ontplooi word iets nuuts gaan gebeur.  Maar die koninkryk van God was nog altyd daar. God moes nie wag tot die tyd van die Nuwe Testament om as soewereine Heerser gekroon te word nie – Hy was van die begin af Koning oor die heelal. By Sinai gee God aan Israel sy wet. Daarin sê Hy onder andere: Ek is die Here jou God … Jy mag naas My geen ander gode hê nie (Eksodus 20:2 – 3).

 

In Israel se geskiedenis breek daar ‘n tyd aan waar hulle God as hulle koning verwerp – hulle wil soos die ander nasies ook ‘n koning hier op aarde hê. Dit gebeur nadat God verklaar het dat Hy Israel se koning is. Toe Samuel by God hieroor kla, sê God vir hom: Hulle het jou nie verwerp nie; hulle het My verwerp as koning oor hulle (1 Samuel 8:7). Samuel waarsku hulle teen ‘n aardse koning wat net vat. God is egter ‘n koning wat net gee en gee.

Hierdie gevoel teen die heerskappy van God is so diep in die mens se hart ingewortel dat die mense Jesus voor die Romeinse gesag gebring het. Die aanklag was dat Jesus Homself Koning gemaak het. Net soos God deur die antieke Israeliete as koning verwerp is, net so is Jesus verwerp. In Johannes 18 kry ons ‘n interessante gesprek tussen Jesus en Pontius Pilatus. Pilatus wil weet of Jesus die koning van die Jode is. Jesus antwoord hom: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie … As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie. Pilatus vra weer of Jesus ‘n koning is waarop Jesus antwoord:Ek is ‘n koning … Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Jesus getuig hier van die heerskappy van die ware Koning. As Hy sy volgelinge oproep om te bid laat u koninkryk kom, maak Hy hulle deelnemers aan sy sending: om die koninkryk van God oor die hele wêreld te versprei.

Wat is die koninkryk van God: Die maklike antwoord is dat dit die gebied is waaroor God regeer. Omdat ons weet dat God die Skepper van die heelal is, moet die hele wêreld sy ryk wees. Die koninkryk van God is waar Hy regeer en Hy regeer orals. Daarom is die koninkryk van God orals.

In die Nuwe Testament kom Johannes die Doper in die woestyn met ‘n ernstige aankondiging: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom (Matteus 3:2). Jesus kom met dieselfde aankondiging. As die koninkryk van God dan die heelal is, hoekom sal iemand dan sê die koninkryk het naby gekom? Johannes die Doper en Jesus sien iets meer in hierdie konsep van die koninkryk van God.

Hulle verwys na die koninkryk waar God se Messias sal heers. Hy is nie net die mense se Verlosser nie, maar ook hulle Koning. Net voor Jesus se hemelvaart vra sy dissipels nog vir oulaas ‘n vraag: Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk van Israel weer gaan oprig? (Handelinge 1:6). Jesus antwoord hulle: Dit is nie vir julle om die tyd en omstandighede te weet wat die Vader in sy eie krag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.

Die koninkryk het naby gekom, want die Koning van die koninkryk was by hulle. Met sy koms na die wêreld vestig Jesus God se koninkryk op aarde. Hy het dit nie voltooi nie, maar Hy het dit begin. Jesus se koninkryk is nie iets net van die toekoms nie. Christus is op hierdie oomblik Koning: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde (Matteus 28:18). Daarom sê Paulus: Maar ons is burgers van die hemel (Filippense 3:20).

Laat u koninkryk kom? Waarvoor bid ons as ons dit sê? Daar is ‘n logika in die petisies in hierdie gebed. Ons begin deur te pleit dat G54od se Naam geheilig sal word. As dit nie gebeur nie, sal sy koninkryk nie kom nie. Maar ons wat glo dat God se Naam heilig is het die verantwoordelikheid om te verseker dat sy koninkryk sigbaar kom. Ons doen dit deur so te leef dat dit van die werklikheid van God se koninkryk getuig.

[In hierdie reeks maak ek onder andere van R.C. Sproul se boek The Payer of the Lord gebruik.]