Laat u Naam geheilig word

image_pdfimage_print

My good name I can leave to the Father. My brother’s good name has been entrusted to me. — Andrew Murray

 

Laat u Naam geheilig word

Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om weer na die Ons Vader-gebed te kyk. Ek gaan onder andere van R. C. Sproul se boek The Prayer of the Lord gebruik maak.

 

God sluit in sy tien gebooie die volgende in: Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie (Eksodus 20:7). God plaas ‘n hoë premium daarop dat dit belangrik is dat sy kinders sy Naam as heilig beskou en dat dit so hanteer moet word. Ons sien presies dieselfde in die Ons Vader gebed. Die dissipels het vir Jesus gevra hoe hulle moet bid en Hy sê: So moet julle bid.

 

Laat u Naam geheilig word. Ons lees hierdie woorde asof hulle ‘n bevestiging van ‘n erkende waarheid is. Hierdie is egter ‘n petisie – ‘n versoek. Onthou wat Jesus hier doen, is om die prioriteite waarvoor ons in ons gebede moet vra, vas te lê. En die heel eerste ding wat Hy noem, is dat God se Naam heilig gehou sou word.

 

Wat beteken dit as ons sê dat God heilig is? Hy is anders as alles wat ons nog ooit ondervind het; God die Skepper is anders as sy skepsels – Hy is nie geskep nie en Hy is ewig. Sy wese is van so ‘n aard dat dit almal se aanbidding waardig is. Hy leer ons hier om te vra dat God se Naam as heilig beskou moet word – dat dit met eerbied hanteer moet word.

 

Min van ons sou hierdie as ons eerste prioriteit gepaas het. Dit is vir ons vreemd om soveel klem op die regte hantering van ‘n naam te plaas. Tog voel ons seergemaak as mense ons name vergeet of verkeerd uitspreek. Ons voel mense dink nie baie van ons nie – hulle neem ons nie ernstig op nie. Hierdie eerste drie petisies hou verband met mekaar. Dit help nie om te bid dat God se koninkryk moet kom as sy Naam nie geheilig word nie – God se koninkryk kom nie vir mense wat geen respek vir Hom het nie.

 

Deur hierdie petisie eerste te plaas sê Jesus dat God se Naam die fondament van alles is – hoe ons voor Hom leef, word deur ons gesindheid teenoor Hom en ons siening van wie Hy is, bepaal. Geen aanbidding vir of gehoorsaamheid aan Hom kan vloei uit ‘n hart wat nie respek vir die Naam van God het nie. Jesus sê dat ons nie agting het vir sy Naam nie, wys dit dat ons geen agting vir Hom het nie. Voordat God se koninkryk kan kom en voordat sy wil gedoen kan word, moet ons eers agting vir God se Naam hê.

 

 

image_pdfimage_print