Leef uit jou Doop: 1.5 ‘n Vreemde Situasie

Leef uit jou Doop: ‘n Vreemde Situasie – Adrio König

1.5 ’n Vreemde situasie

Dit lyk dus of ons in die algemeen met die doop in ’n vreemde situasie sit: Daar is skynbaar geen groep in ons kerklike gemeenskap wat maar enigsins die ryk betekenis van die doop verkondig en beleef nie. Ons het reeds gekyk na die een voorbeeld wat ons kon verwag bo al die ander groepe sal uittroon in hulle verstaan van die doop, die Pinkstergroepe wat juis in Suid-Afrika gegroei het deurhulle siening van die doop.

’n Mens kon tog redelikerwys verwag dat hulle die rykste siening oor die doop sal hê, en die Nuwe Testament hieroor noukeuriger as enige ander groep sou gelees het. Maar ons het gesien die klassieke Pinksterboek oor die doop het vreemde beklemtonings wat nie regtig uit die Nuwe Testament kom nie.

Sou dit ’n eenmalige vreemde situasie wees? Is dit net die doop wat teologies afgeskeep word, terwyl kerke die ander aspekte van die evangelie deeglik ondersoek en uit die volle rykdomme daarvan leef? Of is die teendeel waar? Is kerkgemeenskappe oor die algemeen traag om meer in die Bybel te soek as hulle eie welbekende tradisie? Kom ons kyk na ’n paar aspekte van die Bybelboodskap.

Jesus

Wat sou gemeentelede skryf as hulle gevra word wie Jesus is en wat Hy vir hulle beteken? Mag ek raai dat baie nie verder sal kom nie as dat Hy aan die kruis vir ons sonde gesterf het? En natuurlik is dit nie min nie. Dis deel van die hart van die evangelie. Maar wat van die rykdom oor Hom in die Nuwe Testament? Wat van sy wonderwerke? Wat van sy titels? Wat van die profesieë wat deur Hom vervul is? Dink net aan die merkwaardige feit dat daar minstens vier figure is wat volgens die Ou Testament in die toekoms sou kom, die Profeet, die Messias, die dienaar, en die Seun van die mens, dat hierdie vier heeltemal verskillende figure was, en dat al vier in hierdie een Persoon vervul is.

♦ Die Messias is ’n aardse figuur, die seun/nasaat van Dawid wat regverdig oor Israel sou kom regeer.

♦ Die Seun van die mens kom as ’n hemelse figuur en ontvang ’n hemelse heerskappy oor alle nasies, ’n heerskappy wat nooit beëindig sal word nie.

♦ Die dienaar sal verneder en verwerp word.

♦ Die profeet kom om die wil van God aan die volk te verkondig.

Onder verskillende omstandighede en in verskillende tye is hierdie vier figure aangekondig. Maar uiteindelik word al vier vervul deur een en dieselfde Persoon, Jesus. Hoe ryk moes sy lewe nie gewees het dat die apostels al vier hierdie figure in Hom gesien het nie: regeer, met hemelseheerlikheid beklee wees, ly, God se wil verkondig. Kan dit alles van een persoon waar wees? Wat het die apostels alles in Jesus gesien wat hulle tot hierdie oortuiging gebring het?

Maar die belangriker vraag: Hoeveel van hierdie rykdom van sy lewe is deel van ons belewing en gemeenskap met Hom? Het ons nie ’n arm beeld van Jesus nie? Net so arm as van die doop?

Die kruis

Is dit nie dieselfde geval met die betekenis van die kruis nie? Waaraan dink gelowiges as hulle by die kruis staan? Natuurlik dat Jesus aan die kruis vir ons sonde gesterf het, dat Hy dáár die groot offer gebring het dat ons sonde vergewe kan word. Wonderlik. Maar niks meer nie? Dink daaraan

♦ dat Hy daar die bose magte oorwin het (Kol 2:14, 15; Heb 2:14),

♦ dat Hy ook ons siekte op Hom geneem het (1 Pet 2:24),

♦ dat Hy deur die kruis ’n nuwe wêreldorde geskep het (2 Kor 5:17),

♦ dat ons deur die doop met sy kruisdood verenig word (Rom 6; Kol 2),

♦ en dat die kruis ’n simbool is van hoe ons as Christene moet leef (Mark 8:34, 35).

Verloor ons nie baie van die rykdom van die evangelie met ons eina-eina geloof nie, om altyd met die minimum tevrede te wees?

’n Mens sou so kon aangaan, en telkens tot dieselfde gevolgtrekking kom: Ons leef ver onder die maat van die volle evangelie. Dit is skokkend hoe ons die Bybel verwaarloos deur net kort “opsommings” van die groot sake te maak, en die res ongebruik en onontgin te laat lê. Dit is presies wat ons ook met die doop gedoen het. En daarom is die volgende hoofstuk die heel belangrikste

deel van hierdie boek. Al lees jy niks verder nie, lees hoofstuk 2 en maak dit deel van jou lewe. “Leef uit jou doop” beteken: Leef uit die gawes wat God in jou doop aan jou gegee het.

 

leefuitjoudoopMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König