Leef uit jou Doop: 2.6 Die Gees en die weergeboorte

2.6 Die Gees en die weergeboorte

Die verband tussen die Gees en die doop word nie beklemtoon in die Nuwe Testament nie. Uit die herhaalde voorbeelde in Handelinge kan ’n mens ook nie ’n vaste verhouding of volgorde aflei nie. Word mense eers gedoop, of ontvang hulle eers die Gees?

Ons kan die voorbeelde in Handelinge in vier groepe indeel.

♦ Die gevalle waar daar geen vermelding van die Gees by die doop is nie (8:38; 16:15, 31-34; 18:8; 22:16).

♦ Die gevalle waar daar eers gedoop is en die Gees daarna gegee is sodat die doop as’t ware die Gees meedeel (2:38; 8:15-17; 19:5, 6).

♦ Die gevalle waar die Gees eers ontvang word en die doop daarop volg (10:44-48; 11:15-17).

♦ Die een geval waar daar eenvoudig geen duidelikheid is oor die verband tussen die ontvangs van die Gees en die doop nie (9:17-19).

In die Briewe is daar min verwysings na die verband tussen die Gees en die doop. Maar kom ons kyk tog na die volgende. 1 Korintiërs 12:13 is vreemd vertaal in die 1983-vertaling. NLV is duideliker: Maar ons is almal deur die een Gees gedoop in Christus se liggaam.” Eintlik moet dit lui: “in

Christus se liggaam in” wat beteken die Gees verenig ons deur die doop met die liggaam van Christus, die gemeente. Hier is die Gees dus die een wat aktief is en deur die doop werk, eerder as dat die doop die Gees meedeel.

Dieselfde geld van 1 Korintiërs 6:11. Hier is dit ook die Gees wat ons deur die doop reinig, heilig en vryspreek. Titus 3:5 word ook dikwels vreemd vertaal. Dit geld sowel van 1983 as NLV. Die Grieks het hier die “bad” (“waterbad”) wat die doop beteken. Die doop word hier “die bad van die  “weergeboorte” genoem wat beteken dat God die weergeboorte deur die doop skenk. En saam

met die weergeboorte ook die nuwe lewe (eintlik “die vernuwing”). God doen dit deur die Gees.

Waar daar ’n direkte verband tussen die Gees en die doop gelê word, is dit dus eerder die Gees wat deur die doop werk, as die doop wat die Gees gee. Die Gees is dus saam met God en Jesus Christus die Doper. Dit klop met die oorspronklike doopbevel: “Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Gees.” En juis dit bring ons by die punt waar ons in meer besonderhede kan kyk na die betekenis van hierdie doopformule.


leefuitjoudoopMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za


Skrywer: Prof Adrio König