Leef uit jou Doop: 2.7 God Drie-enig is die Doper

image_pdfimage_print

Leef uit jou Doop: God Drie-enig is die Doper – Adrio König

2.7 God Drie-enig is die Doper

God aanvaar gesag oor ons lewe

Die doopformule self het hierdie wonderlike betekenis. En dis belangrik dat omtrent alle Christelike groepe hierdie formule presies net so gebruik soos Jesus dit gegee het: Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.

Dit beteken waarskynlik minstens twee dinge:

♦ Dat die een wat die doop bedien, dit in die Naam van God doen, en dus met die gesag van God.

♦ Dat God daarmee sy Naam, dus sy gesag, oor die dopeling laat afkondig.

Die betekenis van hierdie doopformule word nêrens in die Nuwe Testament verduidelik nie. Trouens dit is opvallend dat daar nêrens in die Nuwe Testament ’n doopvoorbeeld is waar hierdie formule presies só by ’n doopgeleentheid gebruik is nie. Ons lees deurgaans dat hulle mense gedoop het in die Naam van Jesus of Jesus Christus (Hand 2:38; 8:16; 10:48; 19:5).

Is dit eenvoudig ’n kort manier om na die doop te verwys, of het hulle regtig nie die volle doopformule gebruik nie? Waarskynlik die laaste, omdat dit so konsekwent gebruik

word.

Dit sou dan nog ’n interessante geval wees waar die apostels dinge wat Jesus skynbaar taamlik uitdruklik gesê het, eenvoudig nie begryp en/of gedoen het nie. Daar is meer voorbeelde. Dink maar net aan die sendingopdrag, en Petrus se worstelstryd om dit uit te voer (Hand 10 en Gal 2:11-13).

Die klassieke Gereformeerde doopformulier het ’n wonderlike uiteensetting van die betekenis van hierdie formule gegee. ’n Mens herken die verskillende betekenisse van die doop een na die ander in hierdie uiteensetting. Dit gaan in die formulier oor die doop as God se werk, God se gawes aan ons, en oor die verpligting wat die doop op ons lê. Saam met die klassieke nagmaalformulier is hier die doopformulier die treffendste uiteensetting van die evangelie buite die Bybel. Dit is jammer dat dit in die Gereformeerde kerke aanhoudend voorgelees is in plaas van dat die inhoud daarvan gepreek is. Dit het hierdie formuliere doodgemaak.

Ondanks die pragtige uiteensetting het hierdie doopformulier tog een basiese tekortkoming. Dit gee aan die doop ’n verwysingsbetekenis in plaas van ’n gebeurtenisbetekenis. Volgens die formulier “betuig en beseël” die doop God se beloftes aan ons, en “verseker” ons van die beloftes. Ons het gesien dat dit nie woorde is wat in die Nuwe Testament vir die doop gebruik word nie. Hierdie

woorde is deel van die eeue-oue afswakking van die doop tot waar ons vandag is: ’n teken en ’n simbool. Maar die inhoud van dit wat God doen, word nietemin wonderlik geformuleer.

Die doopformulier gee apart aandag aan die rol van die Vader, die Seun, en die Gees in die doop.

Die Vader

In die werk van die Vader gaan dit oor die genadeverbond. Dit kom uit sowel die Ou Testament as die Nuwe. In 2.4 het ons gesien dit is een van die belangrikste betekenisse van die doop. Ongelukkig is die formulier ook in hierdie geval nie noukeurig nie. Dit lees dat die Vader deur die doop betuig dat Hy ’n ewige genadeverbond met ons sluit. Miskien moes dit liewer gelui het dat Hy ons deur die

doop in die ewige genadeverbond opneem. God sluit nie by die doop met elke dopeling ’n nuwe verbond nie. Daar is net een genadeverbond, die verbond met Abraham, en deur die doop word die dopeling in hierdie verbond opgeneem, soos Galasiërs 3:27-29 duidelik genoeg sê, en Romeine 4:17 impliseer.

Die Seun

Hier kom drie betekenisse na vore wat inderdaad alles te make het met die werk van Christus: die afwassing van ons sondes, ons regverdiging, en ons vereniging met Hom in sy dood en opstanding.

Die Heilige Gees

Hier gaan dit weer oor die reiniging van sonde, en dan oor die daaglikse vernuwing van ons lewe. Dit herinner baie sterk aan Titus 3:5 se “nuwe lewe”.

Ons het dus hier ’n pragtige indeling van die verskeidenheid betekenisse van die doop tussen die Vader en die Seun en die Gees. Maar beteken dit dat die doopformule geen nuwe betekenis van die doop na vore bring waarna ons nie reeds gekyk het nie? Nee. Inteendeel. Ons het reeds kortliks daar na verwys dat die formule onder andere beteken dat God se gesag deur die doop oor die dopeling uitgeroep word.

Ons ken tog hierdie besondere betekenis van ’n naam in die Bybel. Dit het alles met gesag te doen. Ons lees hoe die hoof van Dawid se leër, Joab, die Ammoniete aanval en op die punt is om hulle stad, Rabba, in te val. Maar dan laat hy dringend vir Dawid weet om te kom en self die leër in hierdie beslissende slag aan te voer, want as hy dit self sou doen, sal die stad sy eiendom word. Maar die

Hebreeus lui eintlik: As Joab self die stad inneem, sal sy naam daaroor uitgeroep word. Sy naam staan dus vir sy gesag. Maar as Dawid nou kom, dan word sy naam oor die stad uitgeroep, dan kom die stad onder sy gesag.

Dit is ’n baie belangrike betekenis van die doop: In die doop kondig die een wat doop die gesag van God oor die dopeling af. Dit is nog ’n keer God wat iets doen, wat gee – ’n saak waarop ons by elke betekenis van die doop afgekom het. En nog ’n keer beteken dit die doop vra ’n antwoord. In die doop gee God, en in die geloof antwoord ons. In hierdie geval laat God sy gesag afkondig, en ons is

geroep om sy gesag oor ons lewe te aanvaar.


leefuitjoudoopMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za


Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...