Leef uit jou Doop: 2.1 Algemene Opmerkings

image_pdfimage_print

Leef uit jou Doop: Algemene Opmerkings – Adrio König

2.1  Eers ’n paar algemene opmerkings

Hierdie hoofstuk en die volgende een is direk aan mekaar verbonde. Hier word die betekenis van die doop bespreek, en in hoofstuk 3 die verskillende verbande waarin die doop voorkom.

Die verbande is wesenlik om die betekenis reg te verstaan. Die doop staan nooit geïsoleerd op sy eie nie. Dit funksioneer altyd in hierdie verbande, en ’n mens kan dit net binne hierdie verbande reg verstaan.

Kom ons kyk eers kortliks na sommige van die insigte wat ons in die volgende bladsye oor die betekenis van die doop gaan kry.

♦ Volgens die Nuwe Testament het die doop omtrent sewe belangrike betekenisse.

♦ Nie een van hulle het te doen met ’n teken of ’n simbool nie.

♦ In die Nuwe Testament het die doop nie ’n verwysende betekenis nie, maar ’n ervarings- en ge beurtenisbetekenis.

♦ Dit is deurgaans God wat in en deur die doop werk, nie die mens wat aktief is nie.

♦ Daarom noem ons die doop ’n sakrament.

 

Die betekenis van die doop

♦ Dit beteken dat die doop heilsbetekenis het.

♦ Daar is gou gedoop, direk nadat iemand tot geloof gekom het.

Kom ons bespreek eers ’n paar van hierdie sake voordat ons spesifiek na die betekenisse van die doop gaan kyk. Nêrens word na die doop as ’n teken of ’n simbool verwys nie. ’n Teken en ’n simbool verwys na iets anders, dit het nie betekenis in sigself nie. Maar daar staan nooit so iets oor die doop in die Nuwe Testament nie. Dáár word konsekwent geskryf dat daar in die doop iets gebeur. In die doop word ons met Christus verenig, word ons in die gemeente ingelyf, word ons sonde afgewas. Daar staan nêrens iets soos die doop is die teken of die simbool van ons vereniging met Christus of die teken van ons opname in die gemeente nie.

Dit beteken dat ons ook sal vind dat dit nie ons is wat in die doop aktief is nie, maar God. Die betekenisse van die doop wys almal na Hom. Ons kan ons nie met Christus verenig of onsself in die gemeente opneem nie. Dit is God wat dit doen. Al moet ons vooraf glo, en al mag ons vra om gedoop te word, is dit in die doop self God wat aktief is. Ons is passief. Dit is waarom ons die doop ’n sakrament noem, ’n werking van God. En dit beteken ook dat die doop heilsbetekenis het. Die meeste Protestantse kerke het dit nie aanvaar nie. Hulle was waarskynlik bang vir die gedagte

dat die doop ons outomaties red, dat almal wat gedoop is, daardeur klaar in die heil deel. Maar ons mag nie die duidelike getuienis oor die “hoë” betekenis van die doop afwater omdat ons vir iets bang is nie. Ons moet eerlik en onbevange kyk wat daar in die Bybel staan, en daarna vra hoe ons die gevare kan hanteer.

Ons sal waarskynlik hierdie (vermeende?) gevare effektief kan teenwerk as ons onthou die doop kom nooit op sy eie, geïsoleerd in die Bybel voor nie, maar altyd in duidelike verbande, byvoorbeeld in verband met die geloof. Dit beteken dat die doop nie op sy eie hierdie heilsbetekenis het nie. Die doop het nie ’n magiese werking nie. Die doopwater was nie vanselfsprekend die sonde af nie. Die doop kom veral ter sprake in verband met die werk van Christus, die woord (die evangelie), en die geloof. Dit vorm saam ’n integrale eenheid waardeur God ons in die heil laat deel. En juis dit gaan in die volgende hoofstuk bespreek word.

Ons sal ook sien dat daar in die Nuwe Testament gou gedoop is, dadelik nadat ’n persoon tot geloof gekom het. En ons sal uitvind waarom.

Maar nou kyk ons eers een vir een in besonderhede na die wonderlike betekenisse van die doop.

 

leefuitjoudoopMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...