Leef uit jou Doop: 3.4 Die gelyktydigheid van doop en geloof

3.4 Die gelyktydigheid van doop en geloof

Daar is ’n opvallende gebruik in verband met die doop in die Nuwe Testament. Ons het reeds ’n paar keer daarna gekyk. Mense is gou gedoop, eintlik dadelik nadat hulle tot geloof gekom het. Dit is net nog ’n getuienis van die noue verband tussen doop en geloof.

Kom ons lys die voorbeelde van doop in Handelinge. Een na die ander toon hierdie voorbeelde dat daar dadelik gedoop is, dat daar geen betekenisvolle tydsverloop was tussen geloof (bekering) en die doop nie.

♦ Wanneer Petrus op die Pinksterfees die evangelie verkondig en mense word geraak, word dié wat sy woorde aangeneem het, dadelik gedoop (Hand 2:41).

♦ Die ontmande Etiopiër kom tot geloof wanneer Filippus die evangelie vir hom bring, en by die eerste stroompie word hy gedoop (Hand 8:36).

♦ Saulus sien die lig op die pad na Damaskus. Hy word blind en na Damaskus gelei. Die Here stuur Ananias na hom, en as dit duidelik is dat hy glo, doop Ananias hom dadelik, selfs nog voor hy weer eet (Hand 9:18).

♦ Petrus gaan verkondig die evangelie aan Kornelius en sy mense, en dadelik nadat hulle die Gees ontvang het, is hulle gedoop (Hand 10:44-48).

♦ Die bekering van die tronkbewaarder gebeur onder dramatiese omstandighede (Hand 16:25-34). Daar is ’n aardbewing in die tronk teen middernag, die bewaarder skrik hom byna dood, Paulus roep hom op om te glo, Paulus preek vir hom en sy huismense, dis duidelik dat die man glo, en dadelik word hy gedoop – middernag! (Hand 16:33)

Hoe moet ons dit verstaan? Ons ken dit nie. Wanneer is hierdie mense onderrig? Wat het die tronkbewaarder van die evangelie geweet? Was Paulus nie oorhaastig om hom te doop nie? Die man skrik hom byna dood vir die chaos van die aardbewing, besef sy lewe hang aan ’n draadjie, gryp in wanhoop na die “redding” wat Paulus aanbied, al het hy waarskynlik nie eens goed geweet wat dit beteken nie. Let op die aardbewing was om middernag, en “op daardie uur” is hy en sy mense gedoop (16:25, 33).

Twee sake. Eerstens, wat van die onderrig? Wanneer kom dit? Dit was duidelik bedoel om daarna te kom, gedurende die res van die gedoopte se lewe as lid van ’n gemeente. Wie glo, word dadelik gedoop, word daardeur in die geloofsgemeenskap opgeneem om op ’n deurgaande basis lewenslank onderrig te word. Dit is tog presies wat ons in Jesus se doopbevel kry: Maak dissipels, doop hulle, en leer hulle (Matt 28:19-20). Dus: éérs doop, en agterna leer. Dit klop met die interessante feit dat daar geen dooponderrig in Handelinge gegee word waar die dope plaasvind nie, maar eers later, in die Briewe aan gemeentes. Dáár het die mense gesit wat klaar gedoop is. Hulle word onderrig oor die betekenis van die doop (Rom 6; Kol 2-4). In Handelinge word mense gedoop, en in die Briewe word gedooptes dan agterna geleer wat die doop beteken.

Tweedens, waarom was die apostels so haastig met die doop? Waarom dadelik doop? Geen groep waarvan ek weet, doen dit vandag nog nie. Inteendeel, baie kerke is juis ingestel op nog meer en deegliker onderrig. Soms eis groepe dat dit nie net eers duidelik moet wees dat iemand die evangelie verstaan nie, maar ook dat hy/sy gaan volhard, dat Christenwees hulle erns is. Immers, as so ’n persoon later weer terugval, is dit net tot oneer van die evangelie. In omtrent al die sendingsituasies verloop daar selfs jare tussen die bekering (tot geloof kom) en die doop. Maar van al hierdie “gesonde”, “sterk” argumente is daar niks in Handelinge nie. Trouens hierdie gebruik van “eers deeglik onderrig”, staan nie net teenoor die praktyk in Handelinge nie, maar ook direk teenoor die volgorde in Jesus se doopbevel: “Maak dissipels, doop hulle, leer hulle.” Ons het dit verander in: “Leer hulle, doop hulle.” In die Nuwe Testament geld: As jy glo, bring die water. Dit word nêrens verduidelik nie, maar moet ons dit nie miskien verstaan in die lig daarvan dat geloof en doop dieselfde waarde het nie? God doen dieselfde deur die doop en die geloof. Ons het reeds in die tabel gekyk na die merkwaardige ooreenkoms in die betekenisse van die geloof en die doop. God gee ons deur beide doop en geloof deel aan die volle heil. Deur die doop skenk Hy dit, en deur die geloof neem ons dit aan.

Beteken dit nie as iemand tot geloof kom, moet hy/sy eintlik dadelik gedoop word nie, omdat doop en geloof die selfde betekenisse het, omdat dit in beide geloof en doop om die opname in die heilsgemeenskap gaan, om die persoonlike deelkry aan die heil, om vergifnis, reiniging, regverdiging, redding, vereniging met Christus? God bewerk dit alles deur die geloof en die doop wat eintlik ’n

eenheid vorm. Dit beteken God bewerk dit alles deur die doop vir dié wat glo.

Uit dit alles kan ons seker aflei dat doop en geloof langs mekaar staan as twee instrumente in God se hand waardeur Hy die heil aan ons gee, die heil wat Christus deur sy sterwe en opstanding verdien het.

 

En die uitgestelde doop?

Dit bring interessante vrae na vore oor ’n doop wat eers bedien word lank nadat die persoon tot geloof gekom het, die normale manier hoe daar vandag gedoop word. Sou dit beteken dat hierdie doop dan nie meer sy Nuwe-Testamentiese betekenis kan hê nie? God het dan alreeds lank tevore die persoon deur die geloof gered, geregverdig, vergewe, gereinig, en nou kom die doop agterna. Sou die uitgestelde doop dan net iets soos ’n doopviering word? Wat God deur die doop wil doen, is dus klaar teenwoordig in die persoon se lewe. Is dit dan ook die enigste betekenis wat die sogenaamde “oordoop” kan hê omdat dit bedien word aan mense wat al lank die Here ken, maar later eers tot nuwe doop-oortuigings kom?


leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za


Skrywer: Prof Adrio König