Leef uit jou Doop: 4.5 Geen verband tussen doop en besnydenis

Leef uit jou Doop: 4.5 Geen verband tussen doop en besnydenis – Adrio König

4.5 Geen verband tussen doop en besnydenis

Mense wat die kinderdoop aanvaar, lê gewoonlik baie klem op die verband tussen doop en besnydenis. ’n Mens hoor dikwels: “Die doop het in die plek van die besnydenis gekom.” Dié wat die kinderdoop verwerp, stem glad nie hiermee saam nie. Daar is ’n baie algemene oortuiging dat die verbond met Abraham die ou verbond is en dat die Skrif duidelik daaroor is dat die ou verbond deur die nuwe vervang is (Jer 31:31 ev), die verbond wat Jesus deur sy kruisdood ingestel/bevestig het.

 

Die verbond met Abraham is ’n natuurlike, nasionale verbond wat beteken dat as iemand (net seuntjies) besny is, hy ’n Israeliet of ’n Jood was. Dit het niks met geloof te doene gehad nie. Daarom het Christus ’n nuwe verbond kom instel, die verbond van die geloof. In hierdie verband word dikwels verwys na die seëninge wat aan die verbond met Abraham verbind was: die groot nageslag en die land. Dit is tog volkome aardse seëninge met geen geestelike betekenis nie.

Daar is ander wat wel toegee dat die verbond met Abraham nie bloot ’n nasionale, vleeslike verbond was nie. Maar hulle maak dan ’n duidelike onderskeid tussen twee kante van die verbond met Abraham: ’n geestelike kant, en ’n vleeslike, nasionale kant. Die geestelike kant was Abraham se verhouding met God en sy geloof. Sy eie besnydenis was dan ook inderdaad ’n geestelike saak. Paulus skryf immers: Abraham “het die besnydenis as ’n teken ontvang. Dit is ’n seël wat bewys dat God hom vrygespreek het omdat hy geglo het” (Rom 4:11). Maar dit het net van Abraham gegeld.

Die baba-seuntjies wat daarna besny is, en ook die volwasse heidene, het net ’n vleeslike teken ontvang wat niks met geloof te doene gehad het nie, maar suiwer met Joodwees. Daarom word daar ook in Handelinge gepraat van die verbond met Abraham as “die verbond van die besnydenis” (Hand 7:8, 1953-vertaling). Dit het na die vleeslike kant van die verbond verwys, en dié is opgehef deur Christus. Daarom is daar geen verband tussen die besnydenis en die doop nie. Die besnydenis was ’n vleeslike saak, die doop is ’n geestelike saak, ’n geloofsaak. Trouens Paulus het ook die besnydenis skerp afgewys, wat dit onwaarskynlik maak dat dit in die doop kon oorgaan.

Die verskil blyk ook uit die feit dat net mans en seuntjies besny is terwyl almal wat tot geloof kom, gedoop moet word, ook vroue. En verder blyk dit duidelik uit die Nuwe Testament dat die doop nie in die plek van die besnydenis gekom het nie. Immers die Joodse Christene het nadat hulleself gedoop is, nog steeds hulle babaseuntjie laat besny (Hand 21:20-21).

En wanneer ander Christene hulle op Kolossense 2:11- 12 beroep, word hulle daarop gewys dat dit daar oor ’n geestelike besnydenis gaan (“die besnydenis deur Christus”), en glad nie oor die letterlike een nie.

 

 

Mens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

Prof Adrio König