Leer deur jou voorbeeld

The religion that makes a man look sick certainly won’t cure the world! —Phillip Brooks

 

Leer deur jou voorbeeld

Ek gaan heelwat blogs oor dissipelskap skryf. Ek gaan onder andere van Francis Chan se boek Multiply gebruik maak.

Die slegste ding wat jy kan doen, is om waarhede wat jy self nie uitleef nie aan ander te leer. Dit is vandag ‘n baie algemene kritiek teen die kerk en gelowiges. Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in die spieël kyk: hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik wat hy gesien het (Jakobus 1:22 – 25). Ons leer ander ook deur die voorbeeld wat ons stel. Mense bestudeer die leermeester se lewe. Daarom, as jy ‘n dissipelmaker wil wees, moet jy jou hele lewe gee. Ons moet Jesus Christus in elke aspek van ons lewe volg; ons moet bereid wees om ons lewe vir Hom af te lê.

 

Beteken dit nou dat ons eers volmaak moet wees voordat ons kan begin om dissipels te maak? Nee, want dit is ‘n lewenslange proses: Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom (Filippense 1:6). Dit beteken wel dat ek toelaat dat God se waarheid my lewe verander. As ons dissipels maak, sien ons hoe mense deur die krag van God se woord verander word. Maar as ons dit in ander wil sien gebeur, moet ek self ook hierdie verandering ondervind.

Die probleem is dat daar geen kitsoplossings is nie. Bid dat God jou die regte motivering sal gee om dissipels te maak, om die liefde vir Hom en die mense om jou te vermeerder en dat Hy jou sal bemagtig om die waarheid wat jy aan ander moet verkondig, uit te leef.