Leiding deur my roeping: Elemente (2)

 

If money be not thy servant, it will be thy master. The covetous man cannot so properly be said to possess wealth, as that may be said wealth possess him – Sir Francis Bacon

 

Leiding deur my roeping: Elemente (2)

Ons kyk nou na twee verdere elemente.

 

Volhoubaarheid van verbintenis

Moses, Nehemia en Paulus se bediening gaan gepaard met stryd, swaarkry, ontmoediging, die uitdaging van hulle gesag, ens.

Moses: Hy word direk deur Nadab en Abihu (Levitikus 10), Korag, Datan en Abiram (Numeri 16) en selfs deur Aäron en Mirjam, sy oudste suster (Numeri 12), uitgedaag. Daar was ook die eindelose murmurering van die volk.

Nehemia: Hy ondervind voortdurend teenstand tydens die bou van die muur. Toe hy Jerusalem verlaat verval die morele en geestelike orde wat hy met soveel moeite gevestig het. Toe hy terugkeer, moes hy alles weer regstel.

Paulus: Behalwe al sy fisiese ontberings sê hy ook: Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes (2 Korintiërs 11:28).

 

Maar God het hulle onderhou.

Moses: Hy word 120 jaar oud: sy oë was toe nog goed en sy krag het nog nie ingegee nie (Deuteronomium 34:7).

Nehemia: Hy kon alles wat tydens sy afwesigheid skeef geloop het weer regstel.

Paulus: Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom te eer toe tot in alle ewigheid (2 Timoteus 4:18).

Ten spyte van al hulle swaarkry was die laaste woorde positief. God los nie sy getroue dienaars nie.

 

Moed en regstelling

Daar kom tye wanneer God intree om dit wat ons doen aan te pas of te verbeter. Sulke tye moet ons gewillig wees om te verander. ‘n Hardkoppige weiering om te verander  is ‘n teken van trots. Dit sal God se roeping van ons benadeel.

Moses: Hy aanvaar koersaanpassings. Toe Jetro, sy skoonpa, voorstel dat hy sy werkwyse moet verander, doen hy dit. Hy was nederig genoeg om aan te pas.

Paulus: In Handelinge 16 lees ons dat die Heilige Gees hulle verhinder om God se woord in die provinsie Asië te verkondig. In Troas sien Paulus ‘n gesig van ‘n Masedoniese man wat hulle smeek om na Masedonië te kom. So kom die evangelie in Europa.

Koersaanpassings bevestig en brei die aanvanklike roeping uit. Ons moet altyd bereid wees om uit te vind of God nie dalk iets beter en groter in gedagte het nie.