Leierskap en morele verval

image_pdfimage_print

 

“Christian Hedonism does not make a god of pleasure. Rather, we all make a ‘god’ of whatever we take most pleasure in” (John Piper).

 

Leierskap en morele verval

[Moreel = Wat betrekking het op die gevoel vir wat goed en reg is; sedelik – HAT]

Rick Warren sê dat een van sy grootste vrese vir die kerk is morele mislukkings onder die leierskap. Elke keer as ‘n leier val, ly die kerk saam met sy familie en vriende. Ons kollektiewe getuienis van God se waarheid ly ook skade. Daarom moet kerkleiers besluit om elke dag deur God se genade met integriteit te lewe.

 

Die versoekings wat oor julle kom, is dieselfde as wat enige ander mens teëkom. God sal julle nie in die steek laat nie, maar doen wat Hy gesê het. Hy het mos gesê dat Hy nie dinge met jou sal laat gebeur wat jou as Christen van balans sal gooi nie. As daar dan dinge gebeur wat jou van God se pad wil afkry, sal God jou help om die regte besluit te neem en jou dan die krag gee om te doen wat jy besluit het (1 Korintiërs 10:13 – Die Boodskap). Hierdie vers is gerusstellend. Dit sê: Almal kom voor versoeking te staan – die mens se probleem sedert Adam en Eva. Dit is nie ‘n sonde om versoek te word nie. Dit is wel ‘n sonde om aan versoeking toe te gee. Maar God gee vir ons ‘n ontsnappingsroete. Wat is dit?

 

  • Maak ‘n belofte om God se standaarde na te kom

Wees gewillig om te doen wat die Bybel sê. Hoe kan ‘n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord! (Psalm 119:9). Die beste en veiligste plek om jou waardes te kry, is deur jou Skepper te raadpleeg – in die Bybel. Die Bybel het die aanslae van die tyd weerstaan en sal aan jou die regte leiding gee. Totdat jy besluit dat God se woord die standaard vir jou lewe is, sal jy toegee aan allerhande soorte versoekings.

 

  • Werk aan jou huwelik

Verheug jou oor jou eie vrou, so vol liefde, so mooi soos ‘n takbok, soos ‘n ribbok. Geniet voluit van haar liefkosings, laat dit jou deurentyd bedwelm (Spreuke 5:18 – 19). Die probleem is dat in baie huwelike daar geen spontaneïteit meer is nie – ons maak nie meer die hof aan ons vrouens nie. Terwyl jy getroud is, sal jy aangetrokke tot ander mense wees, maar God stel dit duidelik: rig alle aangetrokkenheid op jou lewensmaat.

 

  • Beheer jou denke

Hoe word ‘n mens verlei? Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug raak, bring dit die sonde voort (Jakobus 1:14 – 15). Die geveg begin in jou denke. Gedagtes bepaal gevoelens en gevoelens bepaal optrede.

 

  • Beheer jou media inname

Ons word deur visuele en verbale stimulasie gebombardeer. Seks word gebruik om alles te verkoop – van batterye tot karre. Dink maar net aan internet pornografie. Wat jy sien is wat jy word. Luister net wat sê die psalmis: Ek stel geen lae ding voor my oë nie (101:3 – OAV).

 

  • Beperk die geleenthede vir versoeking

Ons moet waghou en bid dat ons nie in versoeking kom nie. Ken die situasies wat jou versoek en sorg dat jy daar wegkom. Kies jou vriende baie versigtig: Slegte geselskap bederf goeie sedes (1 Korintiërs 15:33). Beperk die geleenthede vir versoeking deur goeie gelowige vriende te kies.

 

  • Vergroot die gevolge

Met elke versoeking vra jouself: Is dit die moeite werd? Versoeking is kortsigtig. Daar is ernstige gevolge as ons God se opdragte verbreek – emosioneel, geestelik, verhoudings. Ons breek nie God se opdragte nie – hulle breek ons. Dit lei altyd tot bitterheid, skuldgevoelens, ontnugtering,  versteurde verhoudings en oordeel. Dit is nie die moeite werd nie. Maar vergroot ook die gevolge/voordele as jy van versoeking weghardloop. Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet (Jakobus 1:12).

 

Maar as jy toegegee het, is daar vergifnis. Vra vergifnis; stel dinge reg; vergewe ander; herstel verhoudings; hardloop terug na God.

 

 

 

 

image_pdfimage_print