Lewe in die Kerk

Norman Schwarzkopf

Lewe in die Kerk

Ek gaan heelwat blogs oor dissipelskap skryf. Ek gaan onder andere van Francis Chan se boek Multiply gebruik maak.

 

Die Westerse kultuur lê klem op die individu. Ons helde is sterk manne wat selfversorgend is – hulle loop alleen. Dieselfde gebeur ook in die kerk. Elke individu moet Jesus Christus se opdrag om Hom te volg, gehoorsaam, maar ons kan Hom nie as individue volg nie. Ons kan nie dissipels los van Jesus Christus se kerk maak nie. Kyk net na al die mekaar stellings in die Nuwe Testament. Ons kan nie sê dat ons Jesus Christus volg as ons sy kerk verwaarloos nie. Hy het sy roeping aan sy kerk toevertrou.

 

Ons kan nie God se kerk verkleineer nie. Die kerk is nie ‘n sosiale klub of ‘n gebou of ‘n opsie nie. Die kerk is God se strategie om die wêreld te bereik – geen Plan B nie. Ons is so geneig om aan geboue en programme te dink as ons van die kerk praat. Wat vir God belangrik is, is ons interaksie met mense wat Hy op ons pad geplaas het.

In die Bybel word 114 keer na die kerk verwys – in meer as 90 gevalle verwys dit na die plaaslike gemeente en nie na die globale kerk nie. Hoekom leef ons dan so graag los van die kerk?

  • Ons vertrou op onsself; ons is selfversorgend. Ons hou nie van wedersydse interafhanklikheid nie; nog minder van aanspreeklikheid teenoor mekaar.
  • Ons is op soek na die volmaakte kerk. Ons loop van die een na die ander kerk en is elke keer teleurgesteld. Daar is nie ‘n volmaakte kerk bestaande uit volmaakte lidmate nie.
  • Ons het in die kerk seergekry.
  • Ons sien geen rede om aan die plaaslike gemeente verbonde te wees nie.

Die Bybel sê dat die plaaslike gemeente belangrik is. Daar kry ons leiers wat ons in sy woord onderrig – God  het ons opdrag gegee om in plaaslike byeenkomste te vergader waar God se woord verkondig word, die nagmaal gebruik word, nuwe gelowiges gedoop word, waar ons mekaar bemoedig en vir mekaar bid. Daarna versprei ons en deel die evangelie met ongelowiges. ‘n Dissipel wat dissipels maak, wy sy lewe saam met ander medegelowiges aan ‘n gemeente. Dit is waar ons saam met ander gelowiges kan groei en mekaar liefhê – waar ons ons liefde vir God en ons naaste kan uitleef.