Lewe waardig aan die evangelie

Sin is what you do when your heart is not satisfied with God. —John Piper

Lewe waardig aan die evangelie

Julle moet net ‘n lewe waardig aan die evangelie van Christus lei (Filippense 1:27 – Direkte Vertaling in Interliniêre Bybel)

Paulus fokus in hierdie gedeelte onder andere op die verantwoordelikhede van diegene wat die evangelie verkondig. As ons vandag die woord waardig gebruik, is dit dikwels in ‘n vergelykende sin – jy is waardig vir ‘n bevordering. Dit beteken die persoon verdien dit. Nêrens sê Paulus dat ‘n persoon waardig is om deur God verlos te word nie. Hy is baie duidelik dat verlossing ‘n onverdiende gawe van God is.

 

Gelowiges wat aanspraak maak op die genade van God in Christus verteenwoordig Christus in die breë publiek. Hulle wêreldsiening, gedrag en gesindheid word gevorm deur die kruis en opstanding van Jesus Christus. Ons leef waardig aan die evangelie as ons saam met die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge sing: U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. U het hulle ‘n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer (Openbaring 5:9 – 10).

‘n Waardige lewe is dus ‘n koninkrykslewe. Hoe doen ons dit? Ons moet ons geloof loop. Daarna gaan ons volgende kyk.