Liefde: Wat is dit? (3)

If you can’t imagine it, you can’t do it – Einstein

Liefde: Wat is dit? (3)

Hierdie klink na ‘n dom vraag – ons weet tog almal wat liefde is. Op 15 September 2007 lewer Dallas Willard ‘n referaat by die American Association of Christian Counselors se konferensie. Sy onderwerp was: Getting Love Right. Dallas Willard was Professor aan die University of Southern California’s School of Philosophy. Hy was ‘n leraar in die Southern Baptist Church. Sy bekendste werke is In Search of Guidance en the Divine Conspiracy. Met sy sterk filosofiese en sielkundige agtergrond het hy ‘n baie interessante aanslag op die  onderwerp.  Kom ons kyk na ‘n paar gedagtes uit hierdie referaat.

Daar was al baie pogings om ‘n voldoende konsep van liefde te ontwikkel. So ‘n konsep moet liefde van begeerte onderskei. Begeerte en gevoel speel ‘n rol in liefde, maar dit staan nie sentraal nie. 

Liefde is nie optrede nie, maar ‘n bron vir optrede. Dit is ‘n toestand waaruit  optrede van ‘n sekere aard voortspruit.

Hierdie soort liefde is holisties – nie iets wat ons aan- of afskakel vir die of daardie persoon nie – liefde se oriëntering is na die lewe as ‘n geheel. Liefde word gevoed deur die goeie, die regte en die mooi. Daarom kan Paulus vanuit die tronk vir sy vriende in Filippi skryf: Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deur of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig 4:8). So het Paulus geleer om tevrede te wees, maak nie saak wat die omstandighede is nie. Daarom kon hy sê: Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee (4:13).

Paulus verstaan die dwaasheid van diegene wat sê: “Ek kan net nie vir … liefhê nie.” Hulle moenie probeer om daardie persoon lief te hê nie – hulle moet probeer om die soort mens te word wat daardie persoon sal liefhê. Dan word liefde ‘n werklikheid. Ons doel is nie om die of daardie persoon lief te hê of onder sekere omstandighede lief te hê nie. Ons moet ‘n mens wees wat deur liefde besit word – maak nie saak wat aan die gang is nie. Ek kom nie na my vyand en probeer dan om hom lief te hê nie – ek kom na hom as ‘n liefdevolle persoon. Liefde is nie ‘n kraan wat ek kan oop- en toedraai soos ek wil nie. God het ons nie net lief nie – Hy is liefde. Daarom het Hy ons lief al stel ons Hom teleur.

Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ‘n offergawe gegee het (Efesiërs 5:1 – 2). Ons word opgeroep en in staat gestel om soos God lief te hê.