Liewe Heksie

Liewe Heksie – Jan van der Watt

ʼn Leser vra:

Graag sal ek wil weet wat is u siening oor liewe heksie die kinderprogram. Die kyk na die program is nie vir my die probleem nie aangesien na my mening daar nie okkulte bevorder word nie. My probleem is egter dat ons kerk n’ karnaval aangebied het en die drie hekse het daar rondgeloop en gepraat van die towenaar sonder dat ek enigsins enige plakkaat gesien het met die naam liewe heksie. Almal het net aangeneem dit is n’ voorstelling van heksie. My probleem is dat daar direk oor hekse in die Bybel gepraat word en dat ons nie deel daarvan moet wees nie. Ek het met ons kerk se leraars daaroor gepraat en hulle het geen probleem met liewe heksie nie maar wel met hekse. Volgens my mening is daar nie iets soos n’ liewe heks nie en pas nie vir my by n’ Christelike kerk aksie nie. Graag sal ek u mening hieroor wil hoor.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die probleem wat jy noem kom algemeen voor, byvoorbeeld met Harry Potter boeke, sekere video- of rekenaarspeletjies ens. Daar word ʼn mens in wêrelde ingelok wat bewoon word deur allerlei figure en karakters wat allerlei dinge doen. Normaalweg word dit as fiksie beleef (=sommer maar net ʼn storie), maar kleiner kinders kan die onderskeid nog nie maak nie. Hulle leef hulle in die verhale in en identifiseer dikwels baie konkreet daarmee (kleintjies met ʼn supermanpak het al van dakke afgespring, ander het weer allerhande dinge aan hulle maatjies gedoen wat hulle in die verhale geleer het, ens). Daar is dus vir ons ʼn paar dinge wat hier ʼn rol speel.

a)      Opvoedkundig weet ons dat baie gedragspatrone in ons kinders op jong ouderdomme vasgelê word. Hulle leer deur voorbeelde. As ons die verkeerde voorbeelde in hulle lewens beklemtoon en bevorder moet ons dus nie verbaas wees as hulle later so optree of ten minste simpatie met sulke optrede het nie. ʼn Mens se brein werk soos met voetpaadjies. As jy sekere voetpaadjies in ʼn veld trap sal jy gewoonlik daardie voetpaadjies deur die veld volg. As jy in jou brein sekere ‘gedragsvoetpaadjies’ trap sal kinders gewoonlik daardie pad vat as hulle vinnig moet kies. Dit lyk dus sinvol om jou kinders aan positiewe materiaal bloot te stel. Dit het egter die negatiewe sy dat as jy goed vir hulle ‘sensor,’ hulle juis dit wil sien (met of sonder jou toestemming). Dis mos maar hoe ons is. Daarom dink ek nie kan ons hulle van die dinge af weghou nie. Wat ons wel kan doen is om die dinge vir hulle te ‘ontklee’ – met ander woorde, ons moet ons eie posisie teenoor die negatiewe stel en ook sê dat dit sommer verbeelding is (bv. as dit by die rekenaarspeletjies kom). Die geval van Liewe Heksie is egter besonder in die sin dat hekse negatief is, maar dat die karaktertjie positief en goed is. Ek sou dink dat dit opvoedkundig goed sou wees om wel hekse as negatief te beskryf, maar te sê dat hierdie heksie ʼn uitsondering is omdat sy goed is, ens. So sou ʼn mens jou kind miskien kon leer om in die wêreld waarin ons leef te kan onderskei. Wat belangrik hier is dat as jou kind eendag skool toe gaan en besluite moet neem, kan jy nie saamgaan nie. Al wat jou kind van jou saamneem is net jou voorbeeld wat as voetpaadjie ingeprent is. Hou daardie voetpaadjie positief.

b)      Teologies is jy heeltemal reg – daar is ʼn afkeur in die Bybel aan dinge wat die aandag van God aftrek. God is die enigste Here en ons moet al ons leiding by hom soek. As daar dus dinge ontwikkel wat in stryd is met die basiese gedagte, kan dit nie goedgekeur word nie. Hekse se werk sluit kontak met bose geeste in en die geeste word dan om leiding gevra en prominensie gegee. Dit breek die rol van God in die mens se lewe af. Dieselfde argument geld byvoorbeeld vir dinge soos glasie-speel of waarsêers besoek. Ek dink dus nie dit is ʼn goeie idee om so iets te bevorder nie.

Kortom, dit gaan dus oor hoe ʼn mens Liewe Heksie aanbied, of op die kermis gebruik. As Christene hoef ons nie van alles af weg te hardloop nie. Inteendeel. Ons Skeppergod het alles gemaak en ons moet dus alles vir Hom inpalm. As ons weghardloop kan ons dit nie doen nie. Aan die ander kant beteken dit ook nie dat ons maar vir alles die groen lig kan gee asof daar geen opposisie in die wêreld vir die Christen en God is nie.

Outeur: Prof Jan van der Watt