Loop deur die Gees (Galasiërs 5:16 – 18)

image_pdfimage_print

 

There is no such thing as a totally middle-class discipelship – Albert Schweizer

 

Loop deur die Gees (Galasiërs 5:16 – 18)

Die fokus van hierdie gedeelte is op die noodsaaklikheid om voortdurend in die krag van die Heilige Gees te leef. Elke gelowige moet leer om deur die Heilige Gees te lewe. Paulus vertel hier vier belangrike waarhede oor loop deur die Gees:

  • Ons moet voortdurend deur die Gees loop

Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word. Elke dag en oral. Om deur die Gees te loop, beteken ons volg Hom waarheen Hy ons ook al lei. Ons moet luister na Hom; ons moet sy wil onderskei; ons moet sy leiding volg. Dit is die normale Christelike lewe. Hier is dus ‘n mate van spanning tussen God se krag en die gelowige se menslike keuse. Die Christen moet besluit om voortdurend deur die Gees te loop, en terselfdertyd is die HG aan die werk om aan ons nuwe krag te gee om ons sondige natuur te weerstaan.

 

  • Ons moet deur die Gees loop om ons sondige natuur te oorwin

Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheer word, dan sal julle nooit swig voor die begeertes van julle sondige natuur nie (5:16)

Hierdie is ‘n belofte. Hier is geen neutrale grond nie – of die een of die ander. Ons moenie net “nee” vir die sonde sê nie, maar ook “ja” vir die werking van die Heilige Gees. Geestelike groei is nie die gevolg van die bywoning van seminare of die lees van godsdienstige boeke nie … God verander ons van binne na buite deur sy Gees..

 

  • Ons moet deur die Gees loop, want die stryd is intens.

Paulus sê dat wat die sondige natuur begeer en wat die Gees begeer, is in stryd met mekaar. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar (5:17). Die Christelike lewe is ‘n stryd. Om die sondige natuur te oorwin, moet ons die erns van die stryd insien en besluit om deur die Gees te loop. Hoekom is hierdie stryd so intens? Omdat die sondige natuur en die Gees teenstrydige agendas het. Moenie dink dat jy nie deel van die stryd is nie. Ons sal hierdie stryd teen ons sondige natuur stry tot Christus se wederkoms – ‘n intense voortdurende stryd. Die probleem is nie daar buite nie, maar hier binne in my. Elkeen van ons moet leer om ons eie harte te hanteer.

 

  • Ons moet deur die Gees loop om vry van die wet te wees

Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie (5:18). Lewe deur die Gees bring ‘n nuwe manier van lewe. Jy is nie vry om te sondig nie, maar jy is vry van die sonde. Jy het nuwe begeertes; jy het nuwe krag om God tevrede te stel deur die vrug van die Gees te dra. Jy leef nie meer onder die swaar las van die wet nie, maar leef deur die dinamiese krag van die Gees.

 

Dit is duidelik dat ons nie in ons eie krag ver gaan kom nie. Daarom moet ons deur die Gees loop – elke dag.

 

 

 

image_pdfimage_print