Loop saam met God in lyding (2)

A person usually has two reasons for doing something: a good reason and the real reason. -Thomas Carlyle, geskiedkundige en skrywer (1795-1881)

Loop saam met God in lyding (2)

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through pain and suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

Een beeld wat algemeen in die Bybel gebruik word, is om deur die vuur te loop. U het ons beproef, o God, ons gelouter soos silwer (Psalm 66:10); Silwer word in ‘n smeltkroes gelouter en goud in ‘n oond, maar dit is die Here wat die gesindheid toets (Spreuke 17:3); En dié derde sal Ek met vuur louter soos silwer gelouter word. Ek sal hulle suiwer soos goud gesuiwer word (Sagaria13:9).

 

Lyding word gesien as om in die vuur gegooi te word: Ons het in die vuur en die water gekom, maar U het ons uitgelei in die oorvloed (Psalm 69:12 OAV);  As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder … Moenie bang wees nie, Ek is by jou (Jesaja 43:2 – 3, 5).

Nêrens lees ons egter dat gelowiges van lyding uitgesluit word nie – dit is nie as jy deur die vuur gaan nie, maar wanneer. God belowe nie dat gelowiges geen lyding sal ondervind nie, maar wat Hy wel belowe is dat as ons lyding ondervind Hy met ons sal wees – Hy sal langs ons loop.