Loop saam met God in lyding (3)

Love truth, but pardon error. -Voltaire, filosoof en skrywer (1694-1778) 

Loop saam met God in lyding (3)

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through pain and suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

‘n Boek wat baie oor lyding skryf is 1 Petrus. In 1 Petrus 1:6 – 7 skryf hy: Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.

Vuur kan vernietig, maar dit kan ook suiwer en versterk. Goud, ‘n edelmetaal, mag onsuiwerhede bevat wat deur vuur verwyder moet word. Petrus sê dat net so moet gelowiges van alle onsuiwerhede ontslae raak. Hierdie onsuiwerhede mag onder andere na gemaksug,  trots, ‘n gebrek aan sensitiwiteit vir ander verwys. In ons hart dink ons ons doen eintlik goed, want ons lewe beter as ander. Daar is egter baie onsuiwerhede in ons hart – ons is kwesbaar vir kritiek, ons luister sleg, ons is nie gasvry nie, ons is onbetroubaar …

As lyding dan kom, volg selfbejammering en bitterheid. Dit is alles onsuiwerhede waarvan ons ontslae moet raak. Dan sien ons eers wie ons werklik is. Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie … Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen (1 Petrus 1:4, 19).

Die smeltkroes maak ons nie outomaties beter nie. Ons moet God erken, vertrou en glo dat Hy met ons is. Wat belangrik is, is dat ons Hom persoonlik moet ken.