Lukas 8:18

Lukas 8:18 – Francois Malan

Piet vra:

Bespreek of verduidelik Lukas 8:18 aan my asseblief.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Soos in Markus 4:21-25, volg Lukas 8:16-18 op die verklaring van die gelykenis van die saaier wat die woord van God saai. So word Jesus se volgelinge vermaan om die woord wat hulle ontvang het oor Jesus se verlossing van sondaars te saai/verkondig: hulle het die lig van die evangelie ontvang, en moet dit nie vir hulleself hou soos ‘n lamp wat met iets toegemaak of onder ‘n bed gesit word nie. Die lig is juis daar om die duisternis te oorwin (vgl. ook Luk 11:35). Dit moet op ‘n staander gesit word sodat die mense wat binnekom, die lig kan sien (v16). Die mense wat binnekom sal op verskillende maniere op die lig/saad reageer soos die gelykenis van die saaier verduidelik het.

Aan die volgelinge van Jesus is dit deur God gegee om die gelykenisse te verstaan, hulle is ingewy in die verborgenhede van die koninkryk van God (v9). Maar hierdie verborgenhede moet nie geheim gehou word nie. Hulle moet dit bekend maak. God gebruik hulle om alles bekend te maak tot seën van die mense. Maar as iemand huiwer en self probeer lyf wegsteek om die goeie nuus te verkondig, sal God hom/haar aan die kaak stel. Niks of niemand kan voor God geheim bly nie (v17).

Vers 18 is ‘n vermaning oor hoe gelowiges hoor: hoe hulle die evangelie verstaan en hoe hulle dit aan ander oordra as saaiers, getuies van Christus. As iemand die Woord reg gehoor het, mag hy/sy dit nie in hulle hart opberg nie. As hulle dit doen sal hulle op ‘n dag ontdek dat hulle die Woord kwyt is. Die besit van die Woord word vermeerder deur die aanwending daarvan. Soos die saaier moet hulle die saad van die Woord uitstrooi. Dan sal hulle vermeerdering van hulle besit daarvan verwag, deur die vrugbaarheid van die saad in goeie grond – die mense wat die woord met ‘n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrug dra (vv8,15) – vers 21 sê dit gebeur: deur na die woord van God te luister en daarvolgens handel.

Maar as hulle dit gaan wegsteek of verborge hou of by hulleself alleen hou, sal hulle vind dat dit van hulle weggeneem is, deur die duiwel, deur beproewings, deur die sorge, rykdom en genietinge van die lewe, en sal hulle bedroë daarvan afkom, soos die saad wat op die pad geval het (vv5,12) op die klipbank (vv6,13) tussen die onkruid (vv7,10).

Dieselfde beginsel word deur Jesus uitgespreek oor geestelike besit in die gelykenis van die goue muntstukke (Luk. 19:26; vgl. Mat. 25:29; en Luk 6:38). Slegs hulle wat het, hulle wat hoor, bewaar en daarmee werk, ontvang werklik God se gawe, terwyl diegene wat dink dat om te ontvang is genoeg, eendag sal sien dat hy/sy met leë hande staan, dat God die onbenutte gawe van hom/haar wegneem.

 

Skrywer: Prof Francois Malan