Mag situasies my dwing om leuens te vertel?

Sanctity has to do with gratitude. To be a saint is to be fueled by gratitude, nothing more and nothing less.Ronald Rolheiser

Mag situasies my dwing om leuens te vertel?

Moet Christene altyd die waarheid praat? Is dit nie reg om soms ‘n leuen te vertel nie?  In 1966 skryf Joseph Fletcher ‘n boek Situation Ethics: The New Morality. Fletcher sê dat dit soms reg is om God se morele wet te verbreek om ‘n hoër doel te bereik. Hy sê dat as iemand met ‘n geweer na jou huis kom om jou vrou en kinders dood te skiet, mag jy jok oor waar hulle is – die heiligheid van lewe het meer waarde as die heiligheid van die waarheid.

 

 Baie Christene verwys na die verhaal van Ragab (Josua 2) as regverdiging vir ‘n leuen. Twee verkenners kom na haar huis. Sy steek hulle onder die vlasstoppels op haar dak weg. Die koning van Jerigo vra dat sy die mans moet uitlewer, maar sy sê dat hulle net voor die stadspoort gesluit het, gevlug het. Sy het doelbewus gejok. Is haar leuen Bybelse regverdiging om te jok?

 Hier is ‘n paar beginsels wat ons in gedagte moet hou:

  • Die Bybel skryf dikwels oor dinge wat God nie noodwendig goedkeur nie.
  • As God een aspek van ‘n persoon goedkeur, beteken dit nie dat Hy alle aspekte van sy lewe en karakter goedkeur nie.
  • Toepassing moet berus op wat die Bybel seën of aanbeveel en nie op elke besonderheidjie in die verhaal nie.

 As ons na hierdie beginsels kyk, mag dit wees dat  die verhaal in die Bybel opgeteken is sonder uitdruklike goedkeuring van haar leuen? Ragab se lewe is gespaar omdat sy die verkenners se lewe gered het. Beteken dit ook dat God haar oor haar leuen gespaar het?

 Wat die Bybel wel goedkeur is haar geloof:  Omdat Ragab, die prostituut, geglo het, het sy die verkenners vriendelik ontvang en het sy nie omgekom saam met dié wat aan God ongehoorsaam was nie (Hebreërs 11:31). Ons moenie verbaas wees dat Ragab gejok het nie – die middelpunt van haar lewe was onsedelike gedrag. Sy het waarskynlik gereeld vir die mans wat haar besoek het, gejok. Wat die verhaal wel beklemtoon, is dat, al was sy ‘n Kanaänitiese prostituut, Ragab in die God van Israel geglo het: Julle God, die Here, is God, bo in die hemel en onder op die aarde.

 As jong gelowige uit ‘n baie onsedelike agtergrond het Ragab ‘n leuen vertel. Haar voorbeeld  verskaf nie ‘n wettige etiese basis om leuens te vertel nie. Ons dien ‘n God van die waarheid wat ons oproep om die waarheid te praat: Wat julle moet doen, is dit: Praat die waarheid met mekaar, laat die waarheid en die reg geld in julle regspraak sodat daar vrede onder julle kan wees (Sagaria 8:16); Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe … Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat, want ons is lede van dieselfde liggaam (Efesiërs 4:15 en 25).

 Om te sê dat ‘n leuen regverdig is om ‘n lewe te beskerm, impliseer dat God so min hulpbronne tot sy beskikking het dat Hy onder moeilike omstandighede leuens moet gebruik. Moes Ragab gejok het om die verkenners te beskerm of kon God hulle op ‘n ander manier gered het?  Het God ons leuens nodig om sy groot en soewereine doel te bereik? Ons God is tog groter as dit.

 In sy bergrede praat Jesus oor die aflê van ‘n eed sonder om die waarheid aan te pas (Matteus 5:33 – 37). Dit lyk nie asof daar ‘n Bybelse regverdiging is om te jok nie. Gelowiges moet onder alle omstandighede die waarheid praat en op God se beskermende versorging vertrou.