1

Maniere om saam met God in lyding te loop (2)

Those blessings are sweetest that are won with prayers and worn with thanks. —Thomas Goodwin

Maniere om saam met God in lyding te loop (2)

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through Pain and Suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

Hartseer oorvleuel met en is aanvullend tot ander strategieë in my loop deur lyding. Hierdie is nie ‘n reeks stappe wat streng op mekaar volg soos ‘n resep nie. Martin Luther het gesê dat Jesus Christus die volle straf vir my sondes gedra het. Ek is ook verseker dat Hy langs my loop in my lyding. Mag ek kla en hartseer wees as ek swaarkry of moet ek my swaarkry in stilte aanvaar?

 

Die Psalmboek is ‘n boek vol klaagliedere – uitroepe van hartseer in nood. Die psalmis kla oor die optrede van ander of sy eie optrede en gedagtes. Soms is hy selfs gefrustreerd met God self. Waar is u liefde van vroeër, Here, wat U in u trou plegtig aan Dawid belowe het? (Psalm 89:50); Kom ons te hulp! Waarom slaap U, Here? Moet ons nie vir altyd verstoot nie! (Psalm 44:24). Ons kry dieselfde in die boek Job. Luister net hoe uitgesproke is Jeremia: Waarom is daar nie ‘n einde aan my pyn nie, waarom is my wond ongeneeslik en wil dit nie gesond word nie? Ek kan nie op U reken nie, net so min as op ‘n stroom wat nie standhoudend is nie (15:18).

Vroeër is daar dikwels gefrons as mense kla of twyfel – ‘n Christen mag nie huil nie, want dit beteken ek vertrou nie vir God en aanvaar nie sy wil nie. Is dit wat die Bybel sê? Ons lees dat Job opgestaan het en sy klere geskeur het. Daarna het hy op die grond gaan lê (1:20). En tog net twee verse verder lees ons: Onder alles het Job nie gesondig nie. Dit is nie sonde om jou hartseer openlik te wys nie. In die middel van die boek gaan Job so ver om sy geboortedag te verwyt. En tog is God se finale oordeel oor Job verrassend positief: Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende, want julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie … My dienaar Job sal vir julle bid, en Ek sal sy gebed verhoor en julle nie straf vir julle dwaasheid nie. Julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie (42L7 – 9). Job se hartseer het sy emosies uitgedruk. Hy was brutaal eerlik oor sy gevoelens. Later het God vir Job opgeroep om sy onpeilbare wysheid en majesteit te erken.

Dit is duidelik dat dit verkeerd is om vir iemand wat hartseer is, te sê: “Ruk jou reg.” Ek moet meer geduldig en teer wees – ook met myself. Ek moenie dink omdat ek God vertrou dat ek nie gaan huil of hopeloos voel of kwaad word nie. ‘n Riet wat geknak is, sal Hy nie afbreek nie en ‘n lamppit wat rook, nie uitdoof nie; Hy sal die wil van God laat seëvier (Matteus 12:20). Jesus Christus word aangetrek na hopelose gevalle; Hy gee om vir die kwesbares; Hy versorg mense wat geslaan en gekneus is: Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde (Psalm 147:3); Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is (Jesaja 61:1).

Dit is nie sonde om te huil nie. Daar is nie baie plek om te huil nie – ook nie in die kerk nie. Ons gee nie aan mense die vryheid om te huil nie. Ons glo Christene moet bly wees in beproewings. Meeste klaagpsalms in die Bybel eindig met hoop.

Maar wat beteken dit om my te verheug in beproewing? Daarna kyk ons volgende keer.