MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (1)

image_pdfimage_print

MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (1) – Jan van der Watt

Deel 1Matteus, waarom en hoe?

Ons het ten minste vier verhale oor dieselfde gebeure, naamlik die lewe en optrede van Jesus – dit is die vier evangelies. Al vier dié verhale is deur die vroeë Christene as ware verhale aanvaar en is langs mekaar gelees, al verskil dit hier en daar van mekaar.

In daardie tyd was die mense nie so baie bekommerd oor of die verhaal ‘feit vir feit’ presies alles vertel nie, maar het eerder gevra wat ‘n mens uit die geskiedenis kan leer. Daarom verskil die verhale effens, want elke Evangelie wil ‘n ander faset van Jesus se lewe beklemtoon en is in ander omstandighede en vir ander mense geskryf.

 

Die evangelies is ook nie geskryf terwyl Jesus nog gelewe het nie. Dit is ‘n hele klompie jare (so 35-45 jaar) na Jesus se opstanding uit die dood geskryf. Dit beteken nie dat dit toe ‘uitgedink is nie’. Omdat die mense in daardie tyd nog nie drukkuns gehad het nie, het hulle ook nie in die algemeen boeke gehad nie. Hulle het dinge op die ou manier onthou, in hulle koppe. Soms is aantekeninge gemaak van sê die wonderverhale of van Jesus se preke en dit is dan deur die gemeentes gehou en vir mekaar voorgelees. Die belangrike is egter dat die verhale en woorde van Jesus in die gemeentes ‘geleef’ het. Hulle het gedurig oor Jesus gepraat , want hulle wou soos Hy wees en lewe. So het die verhale en woorde van Jesus lewendig gebly tot dit uiteindelik neergeskryf is. Nadat dit neergeskryf is, het die verhale die bronne geword waaruit die gemeentes Jesus leer ken het. So was Jesus op ‘n ander manier by die gemeentes ‘teenwoordig’.

 

Kom ons gaan kyk hoe die Evangelie van Matteus daar uitsien.

 

As jy tyd het, blaai deur Matteus en kyk na al die opskrifte om so ‘n idee te kry wat alles in die evangelie staan. As jy nog meer tyd het, lees die Evangelie deur. Dit is die ideaal.

 

1. Hoe het die evangelies tot stand gekom?

 

Soos ons gesê het, is die verhale oor en woorde van Jesus nie dadelik neergeskryf nie. Dit is deur die dissipels aan die gemeentes vertel en die gemeentes het dit onthou en bespreek. Hier en daar is deeltjie neergeskryf (ons noem dit bronne). Dit was eers so 35 jaar later dat daar ‘n behoefte ontstaan het om die verhale in hulle geheel neer te skryf. Markus het dit eerste gedoen en is dus die oudste evangelie. Matteus het so bietjie later sy verhaal neergeskryf en interessant… hy het Markus se verhaal as basis gebruik (soos ons ‘n biblioteekboek uitneem en op grond daarvan ‘n werkstuk skryf). Ons weet dit omdat groot dele van Markus byna net so in Matteus staan. Lukas het later dieselfde gedoen. Beide Matteus en Lukas het egter nog ‘n tweede boek ook gebruik. Ons het nie meer die boek self nie, maar as ons na Matteus en Lukas kyk is daar soveel dele wat dieselfde is (maar nie uit Markus kom nie) dat dit nie toevallig kan wees nie. Hulle moes ‘n ander boek ook saam gebruik het. Omdat die boek weg is en dus nie ‘n naam het nie, het die wetenskaplikes die boek sommer Q (Q = afkorting vir Quelle = Bron in Duits) genoem. Uit die twee bronne (boeke) het Matteus en Lukas toe hulle eie verhale vir hulle eie gemeentes of groepe geskryf. Hulle het dus ook materiaal wat hulle self geweet het bygevoeg en so het hierdie evangelies tot stand gekom. (Johannes het ‘n ander storie waarby ons later kom). Skematies:

mj1

Maar hoe het hierdie gemeente van Matteus gelyk? Daarna kyk ons in ons volgende bespreking. 

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 

image_pdfimage_print

You may also like...