MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (1)

MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (1) – Jan van der Watt

Deel 1Matteus, waarom en hoe?

Ons het ten minste vier verhale oor dieselfde gebeure, naamlik die lewe en optrede van Jesus – dit is die vier evangelies. Al vier dié verhale is deur die vroeë Christene as ware verhale aanvaar en is langs mekaar gelees, al verskil dit hier en daar van mekaar.

In daardie tyd was die mense nie so baie bekommerd oor of die verhaal ‘feit vir feit’ presies alles vertel nie, maar het eerder gevra wat ‘n mens uit die geskiedenis kan leer. Daarom verskil die verhale effens, want elke Evangelie wil ‘n ander faset van Jesus se lewe beklemtoon en is in ander omstandighede en vir ander mense geskryf.

Die evangelies is ook nie geskryf terwyl Jesus nog gelewe het nie. Dit is ‘n hele klompie jare (so 35-45 jaar) na Jesus se opstanding uit die dood geskryf. Dit beteken nie dat dit toe ‘uitgedink is nie’. Omdat die mense in daardie tyd nog nie drukkuns gehad het nie, het hulle ook nie in die algemeen boeke gehad nie. Hulle het dinge op die ou manier onthou, in hulle koppe. Soms is aantekeninge gemaak van sê die wonderverhale of van Jesus se preke en dit is dan deur die gemeentes gehou en vir mekaar voorgelees. Die belangrike is egter dat die verhale en woorde van Jesus in die gemeentes ‘geleef’ het. Hulle het gedurig oor Jesus gepraat , want hulle wou soos Hy wees en lewe. So het die verhale en woorde van Jesus lewendig gebly tot dit uiteindelik neergeskryf is. Nadat dit neergeskryf is, het die verhale die bronne geword waaruit die gemeentes Jesus leer ken het. So was Jesus op ‘n ander manier by die gemeentes ‘teenwoordig’.

Kom ons gaan kyk hoe die Evangelie van Matteus daar uitsien.

As jy tyd het, blaai deur Matteus en kyk na al die opskrifte om so ‘n idee te kry wat alles in die evangelie staan. As jy nog meer tyd het, lees die Evangelie deur. Dit is die ideaal.

1. Hoe het die evangelies tot stand gekom?

mj1

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt