MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (3)

image_pdfimage_print

MATTEUS SE VERHAAL OOR JESUS (3) – Jan van der Watt

3. Matteus vertel die verhaal van Jesus op sy manier

Matteus het sy verhaal baie sistematies opgeskryf. Hy het verhale met toesprake afgewissel. Ons gaan die eerste deel van Matteus van nader bekyk.

 

3.1  Matt 1-2: Geboorte van Jesus

 

Ons het reeds na die geboorteverhale gekyk. Dit sou miskien goed wees om jouself te verfris en terug te gaan om net weer te gaan kyk wat daar alles oor die geboorteverhaal van Jesus in Matteus staan. Kyk net weer in die lig van wat hierbo staan hoe groot rol die Ou-Testamentiese aanhalings speel. Die verhaal konsentreer ook nie op die herders en skape soos Lukas nie, maar op politieke dinge – Herodes, die koning wat nie van Jesus hou nie, mense uit ander lande, politieke moord op onskuldige kinders, ens. Daar moet ‘n nuwe koninkryk kom… en dit bring Jesus…

 

3.2 Matt 3-4: Voorbereiding         – Johannes die Doper, die versoeking en die eerste dissipels

 

Matteus 3-4 is Matteus se manier om jou in die verhaal van Jesus ‘in te lei’. Matteus is nie so geïnteresseerd in die kindertyd van Jesus nie, maar val – na die geboorteverhaal – sommer met die deur in die huis. Maak ‘n lysie van al die dinge wat Jesus volgens hoofstuk 3-4 gedoen het.

 

Die doop van Jesus kan vergelyk word met sy ‘salwing’ (soos die konings of profete van die ou tyd). Van nou af is Hy dus gereed en moet die werk waarvoor hy gekom het, begin. Die eerste ding wat Jesus doen is om sy grootste vyand vierkantig in die oë te kyk.

 

Die versoeking  van Jesus

 

Dat Jesus se openbare  bediening met die versoeking begin is belangrik – daar sien ons wie die werklike vyand is:  nie Herodes of die Romeine nie, maar die duiwel en die bose magte. Jesus kom nie om die Jode polities te verlos van die Romeine nie, maar om die wêreld geestelik te verlos van die mag van die bose. Die verhaal van Jesus begin dus by sy konfrontasie met die duiwel en eindig daarmee as hy gekruisig word en opstaan. Dit vorm die ‘raam’ van die Evangelie. Deur die hele Evangelie probeer die duiwel Jesus dwarsboom, maar sonder sukses. Hy verloor elke keer.

 

‘n Lekker bybelstudie sal wees om te kyk waar die duiwel, demone of bose magte in Matteus bespreek word en wat elke keer gebeur. As jy lus is, doen dit gerus.

 

Jesus begin preek kry vir hom ‘n gemeente

 

Jesus begin daarna met sy openbare bediening en Matteus gee ook sommer vir ons die tema van sy preek: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” (4:17). Twee belangrike dinge word gesê: a) die mense moet hulle bekeer, met ander woorde, hulle moet hulle na God toe draai soos Hy in Jesus na hulle toe kom, b) God se finale heerskappy (koninkryk) is naby. Dan sal hy al sy vyande vernietig en vir ewig heers. Dit is wat Jesus se koms beteken. As hy sy dissipels roep, sê hy dit presies vir hulle: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” (4:19) – hulle moet mense gaan ‘uitvis’ uit die wêreld om hulle so deel van die koninkryk te maak.

 

In die volgende gedeelte gaan ons na die boodskap van Matteus kyk.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 

image_pdfimage_print

You may also like...