Meer doeltreffende gebede

 

“We will, as I fear, openly worship the devil as a god; so completely do the spiritual authorities and the learned lack all understanding.”  — Martin Luther

 

Meer doeltreffende gebede

Hiskia was ‘n goeie en getroue koning van Juda. Hy was gedurig die teiken van nasies wat oorlog gemaak het. Die koning van die magtige Assirië maak planne om Hiskia se bewind omver te gooi. Hiskia het altyd dieselfde gevegsplen gebruik: Gaan na die Here in gebed en volg sy opdragte.

 

Wat doen jy as jy in ‘n hoek gedruk word as leier en jy kom voor iets te staan wat te groot is vir jou om te hanteer? Hiskia kry ‘n brief vol dreigemente van die Assiriërs en hy begin bid (2 Konings 19:14 – 19). Ons kan baie uit Hiskia se gebed leer. Hier is ‘n paar gedagtes.

  • Hiskia is alleen met God. Daar is korporatiewe gebede in die kerk, maar seker van die doeltreffendste gebedstye is waar jy alleen met God verkeer.
  • Hiskia gaan onmiddellik na die huis van die Here en bid. Sy gebed was nie ‘n nagedagte nie. Hy bid voordat hy sy planne maak. Ons wil so graag reageer dat ons nie tyd het om eers na God toe te gaan nie. Gewoonlik gaan ons eers na God as ons rug teen die muur is en ons geen ander keuse het nie. Soos Hiskia moet ons heel eerste na God toe gaan.
  • Hiskia se gebed was oop en eerlik. Hy was deursigtig voor God. Lees net: hy neem die brief van die Assiriërs en sprei dit voor die Here oop. Amper asof hy sê: “Here, hier is my probleem. Ek kan niks daaraan doen nie. Wat nou?” Dit is baie goed om jou gebedsversoeke uit te skryf – dit verseker dat jy hulle nie vergeet nie.
  • Hiskia se gebed was nederig – hy het eerbied vir God gehad. Hiskia ken sy plek as koning, maar hy ken ook God se plek in die koninkryk. Hiskia was koning van ‘n nasie – ‘n belangrike werk, maar Hy weet dat voor God hy nederig moet wees.
  • Hiskia se gebed was braaf. Hoor tog, Here, luister, kyk tog, Here, let tog op! Hiskia het ‘n verhouding met God gehad – hulle het dikwels gepraat. Daarom wonder hy nie of God daar sal wees as hy praat nie. Hy het geweet dat hy vir God kon vra om namens hom op te tree. Hoe meer jy in jou verhouding met God groei, hoe meer kom jou hart in lyn met God se hart.
  • Hiskia se gebed was afhanklik. Dit is waar, Here, die konings van Assirië het nasies met lande en al verwoes en hulle gode verbrand, maar dit was nie gode nie, dit was die werk van mensehande. Hiskia besef die Assiriërs was veel sterker as Juda. Dit pla Hiskia nie, want hy gaan op God vertrou. Elke keer in elke situasie.
  • Hiskia se gebed was seker, want dit was gebou op sy persoonlike geloof en vertroue in God. Red ons tog uit die mag van die Assiriese koning. Dan sal al die koninkryke van die aarde besef dat U, Here, alleen God is. Hiskia se geloof in God het beteken dat hy met sekerheid kon bid.

 

Geloof berus altyd op God se beloftes. Hiskia weet dat God belowe het dat Hy sy nasie sou red. Hy was vol vertroue dat God sal doen dit wat Hy beloof het. Daarom kon hy in geloof optree.

 

Almal van ons beland in situasies wat ons nie alleen kan hanteer nie – ons soek God se antwoord. Volg Hiskia se voorbeeld. Laat dan sy wil geskied soos jy wag op ‘n antwoord.