Mense en Redding: Die Johannese geskrifte (1) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Johannes met sy eie manier van kyk na die redding – Jesus bring die ewige lewe nou!

Soos in die geval van die sinoptiese evangelies het Johannes (beide in sy Evangelie en Briewe) ook ‘n negatiewe beeld van mense sonder Jesus. In sy beskrywing van die redding gebruik hy egter ander beelde en uitdrukkings. Mense sonder Jesus is in die duisternis (Joh 3:17-21), blind en is geestelik dood (Joh 5:25; 9:1-41; 12:46). Hulle kan hulleself nie red nie en sal dus in hulle sonde sterf (Joh 8:21).

Maar die liefdevolle God kom maak die verskil (Joh 3:16-17): God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Uit liefde en genade (Joh 1:17-18) het God besluit om sy mense te kom red. Sy plan ontvou Hy deur Jesus te stuur om Hom aan die wêreld te kom openbaar (Joh 1:18): Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak. Jesus is dus die Redder van hierdie wêreld (Joh 4:22).

Onderliggend aan die boodskap is die omstandighede waarin die Johannesevangelie geskryf is. Die Christelik-Johannese gemeenskap het van die Joodse gemeenskap, waar hulle hul wortels gehad het, geskei. Die konflik het veral gegaan oor die vraag waar en by wie is God? Die Jode het die tempel, die wet, die hoëpriester, offers, feeste en so aan gehad wat vir hulle bewys was dat God aan hulle kant was. Die Johannesgroep het daarvan verskil. Die teenwoordigheid van God word nie gevind in religieuse strukture nie, maar word geopenbaar in en deur Jesus: Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak (Joh 1:18). As iemand God wil vind, moet sy Jesus eers vind. Alleen deur geloof in Jesus word ‘n persoon se verhouding met God reggestel. Daarvan vertel Johannes en dit vorm ook die kern van sy verlossingsleer.

Jesus word deur die Samaritane as die Redder van die wêreld beskryf (4:42) en so word bevestig dat die redding van die Jode kom (4:22). Dit gebeur deur Jesus as Jood en bevestig so dat die God van die Ou Testament ook die God is wat in en deur Jesus aan die werk is. Dit was belangrik, want as Jesus die redding aanbied, begin Hy nie ‘n nuwe godsdiens nie, maar sit die godsdiens van die vaders, Abraham, Moses en Jesaja voort. So het Abraham, julle voorvader, hom daaroor verheug dat hy die dag van my (= Jesus) koms sou sien, en hy het dit gesien en was bly (Joh 8:56). Moses het oor Jesus geskryf: As julle Moses geglo het, sou julle in My (= Jesus) geglo het, want hy het van My geskrywe (Joh 5:46).

Volgende keer gaan ons kyk na die konsepte wat Johannes gebruik om redding mee te beskryf.