Mense en Redding: Die Sinoptiese Evangelies (5) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

 Hoe word mens deel van die koninkryk? Dit gaan natuurlik oor die herstel van die verhouding tussen God en mens.  Die sinoptiese evangelies as verhaal van Jesus het ‘n interessante manier om die begin en proses van verlossing mee te beskryf. Om gered te word moet ‘n persoon Jesus ‘navolg’ – dit is ‘n ekwivalent van wat Johannes of Paulus bedoel as hulle sê dat iemand in Jesus moet glo.

Matteus vertel hoe hy in die tolhuis gesit het toe Jesus daar verby kom en sê: ‘Volg my’. Hy het opgestaan en Jesus gevolg (Matt 9:9-13). In die res van die verhaal word vertel hoe Jesus saam met die tollenaars en sondaars geëet het om te wys dat Hy vir sondaars en so vir almal wat hom nodig het, gekom het. So het Matteus se lewe verander. Navolging het egter veel meer ingesluit as om net agter Jesus aan te loop. Jesus self stel dit so (Matt 16:24-25): 24Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, 25want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry (sien ook Mk 8:34-9:1).

Twee belangrike begrippe val hier op: a) die volgeling moet hom/haarself verloën, wat verduidelik word as dat die persoon bereid sal wees om sy eie lewe op te offer of te verloor. Dit gaan dus oor ‘n totale oorgawe aan Jesus waardeur Hy vir die persoon belangriker raak as wat die persoon vir hom of haarself is. Navolging beteken dus totale selfopoffering. b) Van die navolger word verwag om sy kruis op te neem en Jesus te volg. Hier moet onthou word dat die skadu van die kruis reeds oor Jesus val. Om vir die navolger te sê dat hy sy kruis moet opneem, beteken om van die navolger te verwag om die pad van lyding vir Jesus enduit te loop. Weereens word die totaliteit van oorgawe beklemtoon. Navolging impliseer totale en lojale binding aan Jesus. Op die manier word die lojale verhouding met Hom uitgedruk en deel mens ook aan die heil en lidmaatskap van die koninkryk. Dus, om gered te word, beteken om naby Jesus te wees, nee, meer, om in ‘n intieme lojale verhouding met hom te staan wat jou eie belange ondergeskik stel aan Jesus s’n. Dit wou die ryk man in Matt 19:16-26 nie doen nie. Hoewel hy al die wette formeel nagekom het, het hy sy eie skatte belangriker geag as die navolging van Jesus. Daarom lees ons (Matt 19:22-24): 22Toe die jongman dit hoor, het hy bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad. 23Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “Dit verseker Ek julle: ’n Ryk mens sal moeilik in die koninkryk van die hemel kom. 24Ek stel dit nog sterker: Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te kom as vir ’n ryke om in die koninkryk van God te kom.”

As ‘n skrifgeleerde dus na Jesus toe kom en sê dat hy Jesus wil volg, antwoord Jesus hom (Matt 8:19-20): “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens ’n rusplek vir sy kop nie.”. Die skrifgeleerde was onder die indruk van die krag van Jesus (die konteks van Matt 8-9 vertel van al die wonders wat Jesus gedoen het) en wou die geheim daarvan by Jesus leer. Jesus help hom reg deur te sê dat navolging van Jesus ook mag beteken dat jy nie eers ‘n plek het om jou hoof neer te lê nie, met ander woorde, slegter af is as die diere. Navolging van Jesus is nie net glorie nie, maar ook opoffering. Dit verduidelik Jesus direk daarna aan ‘n dissipel wat ook vra om Hom na te volg (Matt 8:21-22): “Here, laat my toe om eers terug te gaan en my pa te begrawe.” 22Maar Jesus antwoord hom: “Volg My, en laat die dooies hulle eie dooies begrawe”. Daar word baie oor die betekenis van hierdie woorde bespiegel, maar die essensie van die antwoord kom daarop neer dat die gelowige se plek by Jesus is. Waarskynlik verwys die ‘dooies’ wat die ander dooies moet begrawe na mense wat nie aan Jesus behoort nie, maar geestelik dood is. Al sou dit so wees, val Jesus se antwoord tog nog snaaks op die oor. Die dissipel het tog ‘n billike versoek, want om jou vader te gaan begrawe was destyds ‘n religieuse en sosiale plig. Tog weier Jesus hom dit. Dit intensifiseer net die belangrikheid en absolute aard van die navolgingskap van Jesus.

Geen wonder dat die dissipels begin wonder het oor of dit die moeite werd is om alles te los en Jesus te volg nie. Daarom vra hulle Jesus reguit (Matt 19:27-30): 27Toe sê Petrus vir Hom: “Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal ons daarvoor kry?” 28Jesus antwoord hulle: “Dit verseker Ek julle: Wanneer alles nuut gemaak word, as die Seun van die mens op sy koninklike troon sit, sal ook julle wat My gevolg het, op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regeer. 29En elkeen wat ter wille van my Naam afgesien het van huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of grond, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe as erfenis kry. 30Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste”. Hieruit is duidelik dat die ‘navolging’ deurloop – soos Jesus op ‘n troon sal sit, sal die gelowiges ook op trone sit; die rykdom van Jesus sal hulle rykdom wees.

Dit alles is toekomsmusiek. Wat van nou?