Mense en Redding: Sonde (3) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Die Nuwe Testament praat ook op ander maniere oor gelowiges wat voortdurend hulle verhouding met God sterk moet hou deur bewustelik van hulle sonde en afvallige houding ontslae te raak. Dit word nie direk sondebelydenis genoem nie, maar kom eintlik daarop neer.  Immers, soos ons gesien het, is die doel van sondebelydenis om jou sonde te erken, jou rug daarop te draai en jou met oortuiging aan God toe te wy.

Een manier om te sê dat gelowiges van hulle sonde ontslae moet raak, is dat hulle hulleself moet bekeer. Die woord bekeer word gewoonlik in die Nuwe Testament gebruik om te praat van ‘n mens se omkeer van ongeloof na geloof, met ander woorde, jou eerste bekering. In Openbaring 2-3 is dit anders. Daar sê Johannes egter dat kerkmense, gelowiges, hulleself moet bekeer. Kyk hoe word dit gestel:   Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke (Open 2:4-5), of So het jy ook mense wat vashou aan die leer van die Nikolaïete, wat Ek haat. Bekeer jou (2:15-16). Dit is duidelik dat die gelowiges van sekere van die gemeentes nie meer so getrou aan die Here is nie en daarom word hulle beveel om van hulle verkeerde dade af weg te draai, terug na God toe.

In Kol 3:9-10 word ‘n beeld van iemand wat klere uittrek en aantrek gebruik: Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê (uitgetrek) het en julle jul met die nuwe mens beklee (aangetrek) het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper. Die beeld wat hier gebruik word, is dat die gelowige die sonde soos ou klere moet uittrek, met ander woorde, daarvan ontslae raak. Die ou klere is dinge soos toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond (Kol 3:8). Die klere wat aangetrek moet word, word so beskryf: Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid (Kol 3:12). Wat hier gebeur is dat die gelowige ontslae raak van negatiewe gedrag en bewustelik positiewe gedrag aankweek. Met die klere aan begin die gelowige dus al meer na Jesus, die Skepper (Kol 1:15-16), lyk. Dit veronderstel ‘n deurlopende proses.

Hoeveel maal moet ‘n mense vergewe en word hy vergewe? Daarna kyk ons volgende keer.