Met gebalde vuiste

 

One of the signs of Christian maturity is the ability to disagree with other Christians on secondary matters without vilifying them. —J.R. Vassar

 

Met gebalde vuiste

In 1973 skryf Henri J. M.Nouwen ‘n kort boekie oor gebed: With Open Hands. Hierdie boekie was so gewild dat hy dit in 1995 en 2006 moes hersien. Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie boekie spandeer.

 

Gebed is nie maklik nie. Dit vereis ‘n verhouding waar jy Iemand toelaat om in die middelpunt van jou persoon te kom en te sien wat jy eerder wou verberg het – om dinge aan te raak wat jy eerder onaangeraak wou laat. Dit is gevaarlik en vra dat ons onsself moet verdedig.

 

Die weerstand teen gebed is soos die weerstand van gebalde vuiste. Dit is ‘n beeld van spanning, van ‘n begeerte om styf vas te klou – dit verwys na vrees, As jy bid, word jy gevra om jou gebalde vuis oop te maak en jou laaste bietjie op te gee. Wie wil nou dit doen? Die eerste gebed is dikwels pynlik, want jy ontdek dat jy nie wil laat los nie. Jy klou vas aan wat bekend is – al is jy nie trots daarop nie. Jy glo nie jou lewe kan verander nie; die hoop vir ‘n nuwe lewe het reeds verby gevloei. Jy voel dit is veiliger om vas te klou aan ‘n slegte verlede as om op ‘n nuwe toekoms te vertrou. Jy wil nie oorgee nie.

 

As jy wil begin bid, keer baie dinge na jou toe terug – die bitterheid, die haat, die jaloesie, die teleurstelling en die begeerte om wraak te neem. Hierdie gevoelens is nie net daar nie – jy klou aan hulle vas asof jy nie sonder hulle kan klaarkom nie. Jy kan inderdaad geheg word aan donker magte soos haat. Solank as wat jy weerwraak soek klou jy aan jou verlede vas. Jy staan daar met gebalde vuiste – toe vir ander wat jou graag wil genees.

 

As jy wil bid, is die eerste vraag: Hoe maak ek my gebalde vuiste oop? Nie deur geweld of ‘n  besluit wat afgedwing word nie. Miskien kan jy jou weg na gebed vind deur te luister na die woorde van die engel aan Sagaria, Maria, die skaapwagters en die vroue by die graf: “Moenie bang wees nie.” Moenie bang wees vir Hom wat in jou intiemste spasie wil inkom  en jou uitnooi om dit wat jy so naarstiglik vasklou, te los nie. Moenie bang wees om jou haat, bitterheid en teleurstelling te offer aan Hom wat liefde is nie. Al het jy min om te wys, moenie bang wees om dit te wys nie.

 

Dikwels wil ons ons liefdevolle God ontvang deur alles wat lelik is, terug te hou. Dit is geforseerd en kunsmatig. Dit maak van gebed ‘n foltering. Elke keer as jy een van jou baie vrese oorgee, gaan jou hand oop – jou palms is oop om te ontvang. Jy moet baie geduldig wees totdat jou hande volledig oop is. Dit is ‘n lang geestelike reis. Baie het in jou lewe gebeur om jou vuiste so gebal te maak. Wat jy moet doen is om jou hande sonder vrees oop te maak, sodat Hy wat jou liefhet jou sondes kan verwyder.

 

Nou voel jy ‘n nuwe vryheid; gebed word ‘n vreugde – ‘n spontane reaksie. Nou is dit nie meer ‘n inspanning nie – lewendig, vol vrede en stil. As jy hierdie fees- en stil geleenthede as oomblikke van gebed herken, besef jy dat om te bid, is om te lewe.

Vraag: Wat is dit wat ek so vas in my vuis vasklem?