Milanie Vosloo

Milanie Vosloo

milanie_vosloo

 

Milanie Vosloo, ‘n sakevrou, skrywer en ma, is getroud met Johan Vosloo en het twee kinders, Marizelle (22) en Johan (19).  Milanie het groot geword in Windhoek, Namibië waar sy verskeie kere provinsiale kleure vir langafstande behaal het. Gedurende haar studentejare by die Potchefstroomse Universiteit PU vir CHO, waar sy die graad BA Kommunikasie (Honns) (cum laude) behaal het, was sy onder ander primaria van haar koshuis, studenteraadslid en ontvang sy ook die raadsmedalje vir uitsonderlike leierskap.

In 1985 begin sy op 22 haar eie reklameagentskap.  Hierdie sake-onderneming, Uppe Marketing (Edms) Bpk, het gegroei tot ‘n groep maatskappye wat holistiese kommunikasie- en bemarkingsdienste aan ‘n wye verskeidenheid kliënte lewer. In 1993 is sy aangewys as Suid-Afrikaanse se Junior Sakevrou van die Jaar, in Mei 2005 word sy aangewys as Kempton Park se Sakepersoon van die Jaar, terwyl Uppe Marketing die toekenning as Onderneming van die Jaar ontvang het. Onder haar leiding het Uppe Marketing al verskeie nasionale en internasionale toekennings vir uitstaande kreatiewe reklame-werk ontvang. So byvoorbeeld is Uppe Marketing as finalis aangewys in ‘n Internasionale kompetisie (INMA) en is die maatskappy is ook al bekroon met ‘n silwer “Assegai” en ‘n goue “Loerie” Milanie se maatskappy is so pas ook aangewys as Old Mutal se Onderneming van die jaar in die Ope-afdeling. Milanie glo egter daarin om ook deur haar besigheid,  ‘n sosiale verantwoordelikheidsrol in die samelewing te speel. Daarom dra haar maatskappy ruimskoots by tot verskeie behoeftige organisasies. Uppe Marketing doen ook verskillende uitreikaksies soos Kerspartytjies vir minderbevoorregte kinders, besoeke aan mense in hospitale en die versorging van kinders in Soweto (deel van die Mama Africa projek).

Alhoewel Milanie al verskeie prestasies behaal het, vind sy haar ware vreugde en passie daarin om ook op persoonlike vlak ‘n daadwerklike ewigheidsverskil in ander se lewens te maak. Elf geestelik inspirerende boeke het reeds uit haar pen verskyn. Elke boek van haar is ‘n topverkoper omdat sy dit regkry om op ‘n eerlike en opregte manier die hart van die vrou te raak. Duisende vroue is al deur haar skryfwerk geraak juis omdat sy mense daardeur motiveer, aanmoedig en ondersteun. Sy glo dat elke mens vir  ‘n baie spesifieke rede op aarde geplaas is en sy probeer vroue aanmoedig om hul doel op aarde te vind en hul drome met passie na te jaag.

Twee van haar dagboeke, Sielskos vir die vrou wat leef en Moed vir elke Môre het al Platinum status bereik. Sielskos is reeds in sy 6de druk nadat meer as 23 000 verkoop het en Moed vir elke Môre het na ‘n jaar reeds meer as 18 000 verkoop. Haar mees onlangse boek, Laat Sy liefde jou Lei, het binne twee maande meer as 7000 verkoop. Sy is sedert 2004 die aangewese vroueskrywer vir die elektroniese E-kerk en skryf ook maandeliks die rubriek, Die siel van ‘n vrou, vir die tydskrif Lééf. Milanie is ‘n gewilde en geliefde spreker omdat sy met die harte van vroue met haar woorde raak. Al hierdie dinge doen sy in haar vrye tyd en meestal sonder betaling juis omdat sy glo dat sy maar net ‘n instrument in God se hand is en beskikbaar moet wees sodat Hy sy gawe deur haar kan laat werk.