Moeder Antonia Brenner

 

“There are some preachers you can’t listen to, some you can listen to, and others you must listen to. Strive to be a preacher they must listen to.” H. B. Charles, jr

 

Moeder Antonia Brenner

Nog nooit van haar gehoor nie. Net meer as ‘n jaar gelede is sy in Tijuana, Meksiko oorlede in die berugte La Mesa tronk in Tijuana.

 

Gebore Mary Clarke het sy as Moeder Antonia vrywillig tronk toe gegaan waar sy die laaste dertig jaar van haar lewe deurgebring het`. Sy het geen misdaad gepleeg nie. Sy het ‘n luukse lewe in Beverley Hills geleef toe God haar geroep het. Sy het alles net so gelos en spandeer die res van haar lewe in die tronk. Sy het ‘n ander lewe gelei voor sy Jesus ontmoet het. Sy is gebore in ‘n Iers-Katolieke familie. Haar pa was ‘n suksesvolle sakeman wat goed vir sy familie voorsien het.

 

Sy was twee keer getroud en geskei en het sewe kinders grootgemaak. In 1969 verskyn Jesus aan haar in ‘n droom.  Toe sy wakker word, was sy vasbeslote dat sy haar lewe aan Jesus gaan toewy. Dit was ‘n moeilike tyd, want sy was besig met haar tweede egskeiding. ‘n Priester nooi haar uit om hom met sy bediening in die La Mesa tronk te help – ‘n tronk met 8000 gevangenes.

 

Geen godsdienstige orde wou ‘n vyftigjarige vrou wat al twee keer geskei is aanvaar nie (laat ons dink). Sy maak haar eie kostuum, sy lê haar gelofte privaat af en kry toestemming om in die vroue-afdeling van die tronk te bly. Sy sê: “Ek het gevoel ek is tuis.” Sy het vrylik rondgeloop in die tronk tussen moordenaars, bendelede en desperate gevangenes – en hulle bedien. Sy staan dan ook as die “Tronkengel” bekend. Vir meeste was sy eenvoudig net “Mama.”

 

Haar lewe kan opgesom word in hierdie woorde wat sy geskryf het: “Geluk word nie bepaal deur waar jy is nie. Ek bly in ‘n tronk. En ek was nog nie een dag in 25 jaar terneergedruk nie. Ek was al ontsteld en kwaad. Ek was al hartseer. Maar nooit terneergedruk nie. Ek het ‘n rede om te lewe.”