Moenie die psalms vergeet nie

image_pdfimage_print

 

The vocation of pastor has been replaced by the strategies of religious entrepreneurs with business plans.  – Eugene Peterson

 

Moenie die psalms vergeet nie

Hoe kan ek ‘n disispel wees as my gemoedstoestand wissel van hoog na laag, tussen geloof en twyfel, tussen vertroue en vrees? Lees die psalms. Jesus het ook dikwels uit die psalms aangehaal. As ek dan meer en meer soos Jesus wil word, hoe kan ek dan die psalms ignoreer.

 

Wat doen die psalms vir ons?

  1. Die Psalms bekragtig ons emosies

Aan die kruis roep Jesus uit: My God, my God, waarom het U my verlaat (Psalm 22:2). Die psalms was so deel van Jesus dat Hy dit in die vreeslikste tyd van sy lewe aangehaal het. Ons as Christene probeer dikwels ons emosies onderdruk – Christene is sterk en wys nie hulle emosies nie. Lees ons die psalms sien ons dat daar wel plek vir emosies in die evangelie is. In die psalms sien ons vreugde, teneergedruktheid, dankbaarheid, hartseer en feitlik elke ander emosie. Die pslams sê vir my ek kan vir God vra  waarom en hoe lank nog. Ek kan eerlik wees oor hoe ek voel. Die psalms laat egter nie ons emosies soos hulle is nie. Hulle vorm ons emosies en gee aan hulle die regte konteks.

 

  1. Die psalms vorm ons verbeelding

Hoe ons oor God dink en wat ons van Hom glo is krities as ons ‘n lewe gesentreer op die evangelie wil leef. Waar kan ons leer om te dink en te glo soos Jesus? In die psalms. Hier is ‘n paar voorbeelde van hoe die psalms ons verbeelding kan vorm:

  • Die lewe saam met God is ‘n goeie lewe (Psalm 1)
  • God is ons toevlug en skuiling (Psalm 16)
  • God voorsien wat ons nodig het (Psalm 23)
  • God is vol genade vir sondaars (Psalm 51)
  • God is altyd teenwoordig by ons (Psalm 1390

Die psalms leer ons verbeelding om na te dink oor die waarheid aangaande God (Psalm 1). Jesus het die lewe deur die lens van die psalms gesien (voorbeeld: Psalm 8:3 en Matteus 21:16). Ons hoor dikwels mense sê: “Ek kry swaar. God is seker kwaad vir my.” As ons egter die psalms lees, sien ons dat lyding ‘n normale deel van die lewe is.

 

  1. Die Psalms leer ons om te bid

“The great and sprawling university that Hebrews and Christians have attended to learn to answer God, to learn to pray, has been the Psalms.” (Eugene Peterson). Die psalms leer ons hoe om te bely, hoe om te hoop en hoe om te aanbid. Die psalms is die gebedeboek van die gelowiges.

 

Billy Graham het elke maand die Psalms deurgelees – vyf elke dag. Lees gereeld die psalms. Dan sal ons besef geloof en twyfel bestaan saam.

Here, leer my u weg en lei my op ‘n gelyk pad, om my vyande ontwil (Psalm 27:11).

 

 

 

image_pdfimage_print