Moet ek al die Psalms lees?

 

I’d rather be found in Christ than lost in God – James Donney

 

Moet ek al die Psalms lees?

Wees my genadig, Here, want ek is in die nood; van verdriet het my oë swak geword, ja, alles in my.  My lewe vergaan van kommer en my jare van swaarkry; deur ellende word my krag geknak en teer my liggaam uit … Dié wat my op straat sien, vlug vir my. Ek is vergeet soos iemand wat lankal dood is, ek het geword soos ‘n ding wat lê en vergaan … (Psalm 31:10 – 14

Sjoe. Moet ons die klaagpsalms lees? Lees net Psalm 31:10 – 14. Die psalmis skep hier vir ons ‘n probleem. Wat hy daar beskryf, is op min van ons se lewens van toepassing. Met meeste van ons gaan dit baie beter. Kan ons nie maar sulke psalms oorslaan nie? Nee, daar is goeie redes om hulle te lees:

  1. Dit herinner ons dat daar Christene dwarsoor die wêreld is wat swaarkry – Christene wat deur diep waters gaan. Sing/lees ons hierdie psalms bid ons in werklikheid vir hierdie Christene. Dit herinner ons ook aan diegene in ons eie omgewing wat swaarkry. Ons word uitgedaag om na hulle in praktiese deernis uit te reik.
  2. Dit herinner ons aan wat ons werklik verdien. As gevolg van ons sonde het ons die reg op ‘n gemaklike lewe verbeur. Elke dag sonder pyn is ‘n dag van genade – van onverdiende guns. As ons wel swaarkry, moet ons altyd onthou dat daar ‘n dag sonder trane sal kom.
  3. Dit herinner ons om vir probleme en uitdagings voor te berei. Op een of ander stadium kom almal van ons voor moeilike tye te staan. Sing hierdie psalms op ‘n voorbereidende manier. Vra God om ons gereed te maak en toe te rus vir sulke tye as hulle kom.
  4. Dit herinner ons om al ons probleme na die Here te bring. Hy is ons enigste hoop in moeilike tye, maar soms is ons geneig om van Hom af weg te hardloop. Maar deur hierdie psalms roep God ons terug en sê vir ons: ‘Bring al jou pyn na My toe. Stort jou hart teenoor My uit. Vertel vir My presies hoe jy voel.” Hierdie is ‘n uitdrukking van ons groot behoefte en afhanklikheid van Hom
  5. Dit herinner ons dat ons lyding nie naasteby opweeg teen wat Jesus Christus vir ons gely het nie. Hy kon hierdie psalm soos niemand anders sing nie. Daarom moet ons dit ook tot lof van Jesus Christus sing.

 

Dink mooi voor jy besluit dat ‘n sekere deel van die Bybel nie iets het om vir jou te sê nie.