My denke teenoor die Gees se denke

My denke teenoor die Gees se denke – Jan van der Watt

Vraag:

Annetjie vra:

Ek het hierdie jaar net na ek van vakansie af terug gekom het, dit was net na Maart, begin siek word. My nek was styf en het al hoe stywer geword. Ek het al hoe meer begin worry en gedink ek het verskillende siektes en so aan. Ek het naderhand soveel vrese gehad, dat ek nie geweet het hoe om daaruit te kom nie. Ek het begin twyfel aan die Woord, maar tog baie gelees uit die Bybel en in my gedagtes het gekom, gaan lees Jesaja 41:10. Ek het dit gelees, maar nog steeds nie toegelaat dat God my help nie. Ek glo daar is ʼn God, ek glo dat Jesus vir ons aan die kruis gesterwe het en weer opgevaar het na die hemel. Ek het selfs n wonderwerk in my lewe beleef toe ek 12 jaar oud was. So dis nie dat ek aan God twyfel nie, maar dit voel net of ek nie by Hom uitkom nie. Ek weet nie wanneer dit my eie denke is wat met my praat en of dit God of die Heilige Gees is nie. Hoe onderskei mens jou eie denke en die van God of die Heilige Gees? Hoe kan ek as mens weer op die regte pad met God kom? Ek het God aangeneem as my Saligmaker. Hoe kan ek die Heilige Gees ervaar en hoe kry ek myself om nie te veel vrae in my gedagtes te hê nie.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Annetjie vra hoe onderskei ’n mens jou eie denke van die Gees s’n? Hoe kry ’n mens dat daar nie te veel twyfelgedagtes in ’n mens se kop opkom nie?

Die Nuwe Testament is baie duidelik dat elke gelowige die Heilige Gees in hom of haar het. Daaraan hoef ons nie te twyfel nie. Dit staan vas. Annetjie se vraag is nou hoe ’n mens seker kan wees dat jy die stem van die Gees hoor sonder om dit met jou eie gedagtes te verwar. Dit is ’n belangrike vraag, want in 1 Johannes 4:1-2 sê Johannes al dat die vreeslik maklik is om die woorde van die ware en die valse Gees te verwar. Dit is nie so maklik om daartussen te onderskei nie. Johannes gee dan vir ons die manier waarop ’n mens wel kan onderskei: die boodskap (evangelie) van Jesus is die kriterium. (Lees ook Galasiërs 1:8 – Maar al sou een van ons of selfs ’n engel uit die hemel aan julle ’n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het—die vloek van God sal hom tref!). Kom ons wees konkreet: as jy voel die boodskap van die G(g)ees sê vir jou dat jy jou broer moet haat, hoef jy nie te twyfel nie – dit is nie God se Gees wat praat nie, want daar sal mos nie van jou iets anders verwag word as wat Jesus ons geleer het nie. Die funksie van die Gees is dus net om die boodskap van Jesus in jou lewe te beklemtoon, afhangende van jou situasie.

Dieselfde geld vir mense wat sê dat hulle een of ander openbaring van die Gees gekry het. As die openbaring nie met die boodskap van Jesus in lyn gebring kan word nie, moet ’n mens ernstige vrae daaroor vra. As iemand vir jou sou sê dat die Gees vir hom of haar dit of dat oor jou gesê het, moenie dit sommer net so aanvaar nie. As God vir jou ’n boodskap wil stuur, sal hy dit ook in jou eie hart bevestig. As jy dus nie bevestiging kry van dit wat die ander persoon sê nie, kan jy aanvaar dat dit waarskynlik nie vir jou bedoel is nie. Dan moet jy egter eerlik en oop wees om God se stem te hoor.

Wat van twyfel. Twyfel is nooit sleg nie, want dit is God se manier om jou sterk te maak. In daardie oomblikke wat jy voel ‘alles is weg’ moet jy maar net aan God se hand vashou. As jy dink jy voel nie meer sy hand nie, bly tas en soek. Sy hand is daar. En as jy deur die krisis is, en tog ontdek het dat God se hand al die tyd daar was en Hy jou nooit verlaat het nie, sal jy weet: volgende keer sal dit makliker gaan om deur die twyfel heen staande te bly. Gebruik die twyfel dus om meer van God te leer. Een ding moet jy onthou: God sal jou nooit los as jy sy kind is nie. Lees maar Johannes 10:28-29.

Skrywer: Prof Jan van der Watt