‘n Apostoliese kerk

 

Wherever the people do not believe in something beyond the world, they will worship the world.  – Chesterton

 

‘n Apostoliese kerk

Wat beteken dit as ons van ‘n apostoliese kerk praat? Die Here het sy kerk op Petrus gebou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou (Matteus 16:18). Jesus het aan die apostels die opdrag gegee om sy getuies te wees in Jerusalem sowel as die hele Judea en in Samaria en tot die uithoeke van die wêreld (Handelinge 1:8). In Matteus 28 gee Jesus sy laaste opdrag aan sy dissipels: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels, doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

 

Die kerk vandag is in lewende voortsetting van die kerk in die tyd van die apostels. Die werk van die apostels is deur hulle opvolgers voortgesit. Ons sien die reeds in die Nuwe Testament waar die apostels lede (soos Judas) verplaas het (Handelinge 1:15 – 26). In 1 Timoteus 3:1 – 7 lees ons van nuwe leiers – ouderlinge – wat vir gemeentes aangestel word. Hierdie proses word vandag steeds voortgesit.

 

Die taak van die nuwe leiers van die kerk is om dieselfde boodskap wat die oorspronklike apostels van Jesus ontvang het, oor te dra. Ons hoef dus nie bekommerd te wees oor die integriteit van die evangelieboodskap nie – dit is deur Jesus Christus verkondig wat dit op sy beurt aan die apostels en hulle opvolgers toevertrou het. Hulle het hierdie boodskap bewaar, beskerm en oorgedra – ten spyte van vervolging en die vyandigheid van die wêreld en die duiwel. Toe Jesus vir Petrus gesê het dat Hy sy kerk op hom gaan bou, voeg Hy by: En die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Daarom mag die kerk nooit van die onderrig van Christus afdwaal nie.

 

Maar die kerk is ook apostolies in sy sending.  Die woord apostel in Grieks beteken ambassadeur of “die een wat gestuur is.” Daarom moet alle Christene uitgaan om die die goeie nuus van Jesus Christus aan ander te bring. In hierdie sin van die woord behoort elke gelowige ‘n apostel te wees.

 

Om aan die apostoliese kerk te behoort, beteken dat ons geloof geanker is in die verkondiging en getuienis van die apostels van Jesus. Dit beteken ook dat ons gestuur is om die evangelie met blydskap te verkondig. Ons hoef nie te probeer verstaan wat van die begin af reeds duidelik was nie. Die kerk se onderrig moet die evangelieboodskap – toegepas en verstaan onder die leiding van die Heilige Gees – weerspieël. Hierdie kontinuïteit met twintig eeue van die kerk, verseker dat ons seker kan wees dat ons God se woord ken. Daarom moet ons hierdie woord met ons familie, vriende en die mense wat ons ontmoet deel met die wete dat wat ons hulle vertel, waar is.

 

Die kerk is ‘n geestelike gemeenskap, maar ons kan die kerk identifiseer deur sy tekens: een, heilige, algemene en apostoliese kerk. Die kerk besit hierdie eienskappe as gevolg van ons gemeenskap met Jesus Christus.