‘n Doeltreffende bediening (2)

. —E.M. Bounds

‘n Doeltreffende bediening (2)

In die vorige blog het ons breedweg na Romeine 15 gekyk. Ons het gesê dat Rick Warren sewe noodsaaklike sleutels vir ‘n doeltreffende bediening in hierdie gedeelte identifiseer. Kom ons kyk na hierdie sleutels. Vandag kyk ons na die eerste drie.

 

  • ‘n Doeltreffende bediening word op God se genade gebou

God het my immers in sy genade die voorreg gegee om in diens van Christus Jesus onder die heidennasies te werk.  Ek verdien nie om in ‘n bediening te staan nie. Dit is ‘n voorreg. God gebruik my op hierdie plek net as gevolg van sy genade. God weet ek gaan foute maak, maar tog gebruik Hy my – dit is wat genade is. Jy gaan struikel; jy gaan dinge doen wat vir jou ‘n verleentheid is. Genade is die feit dat God onvolmaakte mense gebruik. As Hy net volmaakte mense gebruik het, sou niks gedoen word nie. Ons is almal op pad; ons groei nog. Maar terwyl ons groei, bedien ons. Jy ontvang jou bediening – jy verdien dit nie. Alles wat God in en deur ons lewens doen, is genade. Soms sê ons: “Ek het te veel foute – God kan my nie gebruik nie.” In sy genade gebruik God gewone mense.

  • ‘n Doeltreffende bediening word nie net op God se genade gebou nie, maar ook op sy woord.

Dit is my priesterlike taak  om die evangelie van God aan hulle te bedien (15:16). Wat is hierdie evangelie? Die Bybel. Dit is die gids vir bediening. Mense wat in bediening betrokke is, moet 1 en 2 Timoteus en Titus goed bestudeer, want hulle is aan mense wat in die bediening gestaan het, geskrywe. Maar nou vertrou ek julle aan God toe en aan die woord van sy genade. Die woord is magtig om julle op te bou (Handelinge 20:32); Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaalleer te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk (2 Timoteus 3:16 – 17). Die woord is toerusting, ons handleiding.

  • n Doeltreffende bediening word vir God se heerlikheid gedoen

 Dit word nie gedoen om my beeld te bevorder nie. Paulus wou gehad het dat mense meer deur God as deur hom beïndruk sou word. Ek sal dit nie waag om oor iets anders te praat as oor wat Christus deur my tot stand gebring het (15:17). Let op: wat Christus deur my gedoen het. Hy staan in die bediening om God te verheerlik God doen dinge deur mense. Maar sodra jy trots raak op wat jy bereik het, onttrek God sy seënende hand van jou bediening. Nederigheid is om eerlik oor jou tekortkominge te wees en te besef dat jou sterkpunte gawes van God is.

Volgende keer gaan ons na nog vier sleutels vir ‘n doeltreffende bediening kyk.