‘n Gewone lewe

 

Don’t excuse yourself by accusing Satan. —Thomas Brooks

 

‘n Gewone lewe

Is ‘n buitengewone lewe die norm? Waarvoor ons geroep is om elke dag op ‘n spesifieke plek te doen, is beloning genoeg. Maar gewoon is nou nie ‘n woord waarvan ons hou nie – ons wil nie gewone mense wees nie; ons wil nie lidmate van ‘n gewone gemeente wees nie; ons wil nie ‘n gewone werk hê nie. Ons glo dat ons lewe moet tel; ons moet ‘n verskil maak.

 

Maar daar is ‘n toenemende onrustigheid met hierdie siening. Ons is moeg vir die gereelde oproepe vir radikale verandering. Michael Horton hanteer hierdie probleem in sy nuutste boek: Ordinary.

 

Alledaagsheid is vervelig – en ons mense is baie bang vir verveeldheid. Ons groot idee “om die wêreld te verander,” beteken dikwels dat ons nie die geleenthede om ons raaksien nie – of hulle vermy. Waar is om ons? Daar waar God ons geplaas het om Hom te verheerlik en te geniet en diegene om ons se lewens te verryk. Soms is die beste manier om ‘n buitengewone lewe te leef juis om buitengewoon te leef in ‘n gewone lewe – om radikaal lief te hê en ander om ons te dien, maak nie saak waar ons is nie.

 

Die genesing vir selfsugtige ambisie en rustelose toewyding aan die “volgende groot ding” is tevredenheid. Maar tevredenheid het ‘n voorwerp nodig. Hierdie voorwerp is die evangelie. Die evangelie is radikaal: Dit is ‘n krag van God tot redding van van elkeen wat glo (Romene 1:16). Ons harte, gevul met blydskap, is gretig om God te dank, te groei en ander te dien.

 

God gee aan ons lewe; Hy voorsien vir ons; Hy maak beloftes wat Hy altyd vervul. Hy is altyd met ons – tot aan die einde. Dit is ons sekerheid. Uit ons tevredenheid kan ons ons gewone taak in die wêreld verrig asof ons dit vir die Here doen.