‘n Heel lewe

 

Knowing God is your single greatest privilege as a Christian. —Sinclair Ferguson

‘n Heel lewe

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Die beginsels van hierdie beweging is:

  • Etiek – verbind tot kwaliteit en nie net aan kwantiteit en doeltreffendheid nie. Die uitdaging is om die beliggaming van Jesus Christus in ‘n spesifieke plek te wees.
  • Ekologie – ons oproep om Jesus Christus te volg moet binne God se sending van die versoening van alle dinge verstaan word. Ons moenie net aan wat ons doen aandag gee nie, maar ook aan hoe ons dit doen.
  • Ekonomie – dit verwys na God se oorvloedige voorsiening vir God se versoeningswerk.

Heelheid

Die Westerse kultuur word toenemend deur tegnologie en individualisme gevorm. Die neiging is ‘n groter isolering van mense. Ons kompartementaliseer ons lewens. Ons benader mense, nie as unieke persone nie, maar as generiese kategorieë: swart, wit, mans, vrouens, arm, ryk, haweloos, liberaal …  Ons gebruik hierdie etikette veral vir mense wat van ons verskil. Die gebruik van etikette kan dikwels mure tussen ons en hulle oprig. Ons ontken mense se individualiteit en fokus op ons verskille en nie op dit wat ons in gemeen het nie.

 

Die fragmentering van ons lewens is ‘n ramp. Ons sien die krake in ons kultuur wat die gevolg van individualisme, ‘n verbruikersmentaliteit en ‘n vinnige lewe is. Is hierdie fragmentering ingebou in die struktuur van die skepping? God het baie vorme – lewend en nie-lewend –  gemaak, maar hulle is almal verbind in een geheel – die skepping. Edward Lorenz, ‘n wiskundige meteoroloog, beskryf die chaos teorie. Hierin wys hy dat oënskynlik betekenislose optrede massiewe gevolge kan hê. Ons het ‘n onvolledige verstaan van hoe die skepping in mekaar geweef is as ‘n geheel. Ons kan nie verstaan hoe ‘n oënskynlik ontelbare aantal vorme verenig is in die netwerk van die skepping nie.

God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is … en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel (Kolossense 1:16 en 20). As God se mense plaas ons onsself in die ekologiese storie van God om ‘n skepping wat verbind is, te versoen. Ons vernou baie maklik die fokus. Ons soek ‘n besondere probleem uit en fokus om oplossings vir hierdie probleem te kry. In die proses gee ons min/geen aandag aan die koste en die gevolge wat dit mag hê vir die breër skepping nie. So byvoorbeeld het die motorkar horisonne vir outonome reis geopen, maar dit gaan gepaard met besoedeling, klimaatsverandering, ens.

Al hierdie ekonomiese kortpaaie lei dikwels tot die agteruitgang van die menslike lewe en kultuur en wydverspreide omgewingsvernietiging. Christene sien hierdie katastrofes – as hulle dit raaksien – as irrelevant vir hulle geloof. Hoekom? Want ons lewens word in geestelike en materiële, huis en werk en die kerk  kompartemente geskei. Selfs ons gemeentes dink fragmentaries. – ons sien nie die hele skepping en God se versoeningsoptrede nie. Ons fokus is dikwels baie eng – ons verhouding met Jesus Christus en ons sien nie die gevolge wat ons optredes buite hierdie fokusarea mag veroorsaak nie.

Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie (Matteus 6:22 – 23). God wil hê dat ons met oop oë deur die wêreld moet gaan. Nie alleen sal ons versigtiger  op die aarde loop nie, maar ons sal ook die wonder van God wat die voëls voed en die lelies klee raaksien.

Volgende keer gaan ons na dualisme kyk.