‘n Herder

image_pdfimage_print

This is true religion, to approve what God approves, to hate what he hates, and to delight in what delights him. —Charles Hodge

 

 ‘n Herder

As gevolg van veranderende sosiale omstandighede verander ons verstaan van belangrike Bybelse konsepte. Een daarvan is die beeld van die herder. As ons dink aan ‘n herder dink ons aan harmonie en vrede met die natuur. Is dit die beeld van die herder wat ons in die Skrif kry?

 

 Die Bybelse herder is ‘n sterk en brawe man. Die Bybelse beeld van ‘n herder is ‘n man omring deur baie bedreigings – hy moet mens en dier konfronteer. Sy taak is om sy kudde te beskerm. Hy werk in ‘n moeilike terrein – barre woestyn, gevaarlike berge en valleie, ens. Daar moet hy water en voeding vir sy skape kry. Rowers en diewe mag probeer om sy kudde te steel; sy skape kan die prooi van wilde diere word. Die beskerming van sy kudde mag hom sy lewe kos. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape (Johannes 10:11).

 

Maar as ons aan ‘n herder dink, dink ons teerheid, deernis, voorsiening en die persoonlike versorging van sy skape. Ons kry hierdie beeld ook in die Bybel – Psalm 23, Jesaja 40:11, Esegiël 34 en Johannes 10. In Jesaja 40:11 lees ons dat God sy lammers bymekaar maak en hulle teen sy bors dra. Dit is dieselfde God wat in vers 10 die Magtige wat regeer, genoem word. Dieselfde Here wat sy kudde  in groen weivelde laat rus, is ook die Here wat sy kudde teen vyande beskerm. Ons beskou Dawid as ‘n jong man, maar ons lees dat hy leeus en bere doodgemaak het om sy kudde te beskerm (1 Samuel 17:36 – 37).

 

Hierdie misverstand van die rol van die herder het oorgespoel na ons siening van bediening. Vir ons is die Christelike herder iemand wat saggies die kudde hanteer en in al hulle behoeftes voorsien – ‘n terapeutiese en ondersteunende rol. As die Bybelse beeld van die herder korrek is, kort daar iets. Die herder is ‘n vegter – vasberade en sterk. Enigeen wat sy kudde skade wil aandoen, sal dit ontgeld.

 

Die Christelike herder moet op sy hoede wees – hy moet die vyande van die kudde wegdryf. Maar terselfdertyd moet hy sy eie kudde lei en voorsien in hulle behoeftes. In ons huidige beeld van die herder is daar geen sprake van gesag, mag, leierskap, konflik en teenstand nie. Die beeld van die Christelike herder wat God se staf as wapen teen die vyande van God se kudde gebruik,  is vir baie Christene aanstootlik.

 

Christelike herders moet God se kudde liefhê en versorg, maar hulle moenie bang wees vir konflik nie – hulle moet daarvoor voorberei word.

 

image_pdfimage_print