‘N Lewe wat nie raakgesien word nie.

image_pdfimage_print

‘N Lewe wat nie raakgesien word nie.

Ons weet nie veel van Henog nie. Ons lees niks van sy dade in die Bybel nie. Ons weet net dat hy die sewende geslag tussen Adam en Noag was, dat sy vader Jered was, en dat sy seun Metusalag was. Ten spyte van hierdie onopvallende lewe (ten opsigte van geskiedkundige opvallendheid en Bybelse besonderhede) verskyn sy naam tweede in die heldegalery van Hebreërs 11.

 

Hoekom verskyn sy naam saam met dié van Noag, Abraham en Moses op hierdie lys? Soos Henog gaan meeste Christene nie opgemerk word nie. Natuurlik gaan ons die mense om ons beïnvloed, maar min Christene se name sal in die geskiedenisboeke verskyn. Ons het ‘n klein klompie mense wat ons op Facebook volg of ons blogs lees.

 

Ontmoedig dit vir jou? Dit is ‘n versoeking om te glo dat wat ons glo en wat ons doen geen impak op ander sal hê nie. Is ons nie maar net klein spikkeltjies in die groot heelal nie? Henog se verhaal van geloof daag hierdie pessimistiese siening uit. Hebreërs 11:5 sê: Omdat Henog geglo het, is hy weggeneem sonder dat hy gesterf het, en hy was nêrens te vind nie, omdat God hom weggeneem het. Van hom word getuig dat hy, voordat hy weggeneem is, geleef het soos God dit wou.

 

Alhoewel ons baie min van Henog weet, konfronteer die verwysing na hom in Hebreërs 11 met die werklikheid dat God sien en omgee.  Die enigste manier waarop God tevrede met Henog se lewe kon wees, is dat HY dit raakgesien het; die enigste rede vir God om sy lewe raak te sien het, was omdat Hy omgegee het. Dit beteken dat Henog se lewe hoe onbeduidend ook al in menslike terme, was beslis nie betekenisloos nie.

 

Henog se storie sê vir ons dat dié betekenis en doel van die lewe nie te vinde is in politieke mag, die bymekaarmaak van rykdom of geskiedkundige bekendheid nie. Jy kan al hierdie dinge hê, en steeds voel jy is sonder betekenis. Die plek om tevredenheid te ondervind – dit is betekenis en doel en vrede in die lewe –is in ‘n verhouding met God. Henog se storie leer ons dat in God se oë is nie een van sy kinders klein nie – almal word raakgesien.

 

Die grootste impak van wat reg, goed en waar is in die gemeenskap word nie gemaak deur die paar mense wat in die geskiedenisboeke beskryf word nie, maar deur die massas onbekende karakters wat doen en sê wat reg is en ander ten goede beïnvloed. God bevorder sy saak deur duisende “klein” mense soos Henog wat doen wat reg is daar waar God hulle geplaas het.

 

Henog se storie is bowe-al ‘n storie van genade. As genade in jou huis kom word jou hart radikaal herrangskik. Nou is dit nie meer jou eie begeertes, gevoelens en behoeftes wat belangrik is nie, maar nou is Wat God sê belangrik vir jou. Nou wil jy hê dat jou lewe vir Hom aanvaarbaar sal wees. Genade vang verlore en doellose klein mensies en vul hulle lewens met betekenis en doel. Die gevolg van hierdie genade is dat hulle God en ander mense meer liefhet as hulleself.

 

Hierdie is Henog se verhaal en deur genade kan dit ook my en jou verhaal wees.

 

image_pdfimage_print