‘n Model om twyfel te hanteer

 

In terms of Christian theology, the gospel is the glue between doctrine, experience, mission, and practice – Michael Bird

 

 ‘n Model om twyfel te hanteer

In Johannes 20 lees ons hoe Jesus ‘n twyfelaar – Tomas – benader. Johannes begin deur vir Tomas te beskryf:

Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!” Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie” (20:24 – 25). Sjoe. Tomas wil nie net sien nie, hy wil vat ook. Hy wil absoluut seker maak hy hallusineer nie. Dit is ‘n eerlike benadering. God waardeer ons eerlike vrae, want dit gee aan Hom iets solied om mee te werk.

 

Jesus laat Tomas braai met sy vraag vir agt dae. Dit is goed vir jou om ‘n bietjie te braai met jou vrae, mits dit binne perke is. Teen die tyd wat jy die antwoord kry, is jy gereed daarvoor. Jesus los vir Tomas om te werk aan sy probleem – ag dae lank. Ag dae later verskyn Jesus weer aan sy dissipels. Hierdie keer is Tomas by. Jesus gaan staan tussen hulle: ”Vrede vir julle!” Daarna sê Hy vir Tomas: “ Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek  hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”  Jesus was bereid om Tomas by te staan om deur sy twyfel te werk. Dit is ‘n kenmerk van die Here in verhouding met sy mense. Luister wat sê Hy volgende vir Tomas: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” Let daarop dat Jesus nie maar net vir Tomas laat ly het nie – Hy gee aan Tomas die bewyse  wat hy nodig gehad het. Dit is tipies van Jesus se benadering tot twyfel. Hy reageer op mense wat eerlik twyfel op die manier wat Hy weet die beste is om van twyfel na kennis te beweeg.

 

Baie gelowiges het groot geword met die idee dat hulle nie vrae mag vra oor wat hulle in die kerk hoor nie en dat twyfel ‘n slegte ding is. Hulle sien nie die groot waarde in twyfel raak nie – dit stimuleer jou om aan te hou dink en vrae te vra. Sien net wat Jesus alles reggekry het deur bloot net vrae te vra. Ons moet hierdie proses aan die gang hou in gesprekke met ander, om na goeie sprekers te luister, om boeke te lees, ens. Hierdie mag tydrowend wees en daarom moet ons dit in ‘n gemeenskap doen waar ons deel wat ons besig is om te leer. Maar dan moet ons gemeenskap oop wees. Mense, veral jongmense,  moet aangemoedig word om hulle twyfel te erken en daaroor te praat. Om oor jou twyfel te praat is goed.