‘n Nuwe Kategismus: Vraag 11

Seeing is not believing. Seeing is seeing. Believing is being confident without seeing. —G. Campbell Morgan

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 11

Vraag:

Wat verwag God van ons in die sesde, sewende en agste gebooie.

 

 

Antwoord:

Sesde: dat ons nie ons naaste sal seermaak of haat of vyandig teenoor hom sal wees nie, maar dat ons geduldig en vreedsaam sal wees. Ons sal selfs ons vyande liefhê. Sewende: dat ons ons van seksuele onsedelikheid sal weerhou en rein en getrou sal leef – in ons huwelike of as ons nog enkel is. Ons sal alle onrein optrede, gedagtes of begeertes of wat daartoe mag lei, vermy. Agste: ons sal nie sonder toestemming iets neem wat nie aan ons behoort nie; ons sal nie goed van iemand wat daardeur kan baat, weerhou nie. [Die onderstreepte gedeeltes is die antwoord vir kinders.]

 

Teksvers

Al die gebooie: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,” of watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” (Romeine 13:9).

 

Kommentaar

Die mens kan nie eers die Tien Gebooie onderhou nie. Tog praat ons so maklik van onderhouding van die Bergrede en om Christus na te boots … Die Jode was ‘n nasie aan wie God sy wet deur sy dienaar Moses gegee het en hulle kon dit nie onderhou nie. Hulle kon nie die Tien Gebooie onderhou nie. Niemand kon die gebooie nog ooit volmaak onderhou nie … as niemand die Tien Gebooie, soos hulle dit verstaan, kan onderhou nie, sal hulle mos nooit die Tien Gebooie soos die Here Jesus Christus dit geïnterpreteer het, kan onderhou nie. Dit was die groot probleem van die Fariseërs, wat Hom gehaat en uiteindelik gekruisig het. Hulle het gedink dat hulle die Tien Gebooie en die morele wet nagekom het. Ons Here het hulle oortuig en aangekla dat hulle dit nie gedoen het nie. Hulle sê dat hulle nog nooit moord gepleeg het nie. Wag ‘n bietjie sê ons Here. Het jy al ooit vir jou broer gesê:” jou gek of jou dwaas? As jy dit gedoen het is jy skuldig aan moord. Moord beteken nie net om iemand fisies dood te maak nie; dit beteken ook bitterheid en haat in jou hart … as jy reg onthou het Hy dieselfde oor owerspel geleer. Hulle het gesê dat hulle onskuldig was. Maar, wag ‘n bietjie sê ons Here, sê jy dat jy nog nooit egbreuk gepleeg het nie?  Maar, Ek sê vir julle: Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar ontug gepleeg (Matteus 5:28). Hy is skuldig; hy het begeer … ‘n Gedagte en om jou te verbeel, is net so veragtelik in die oë van God as die daad self.

 

Hierdie kommentaar is geskryf deur David Martyn Lloyd-Jones (1899–1981). Hy was ‘n Walliese geneesheer en ‘n Protestantse leraar. Hy is veral bekend vir sy prediking en onderrig in Westminster Kapel in Londen – vir dertig jaar lank. Hy het maande, soms self jare, geneem om ‘n hoofstuk in die Bybel uit te lê – vers vir vers. Sy belangrikste werk in waarskynlik sy kommentaar op die brief aan die Romeine – veertien volumes. Hierdie kommentaar kom uit  The Cross (Wheaton: Crossway, 1986), 176–177.

 Verdere Leestof

 “Teacher” and “Love” in Concise Theology, deur J. I. Packer.

 Gebed

O barmhartige God en Vader wat beloof het om u geestelike tempel onder ons te bou, nie met hout en steen nie, maar met u opbouende Heilige Gees, wat in diegene wat glo woon. Ons pleit by U dat ons nie, onder die invloed van versoekings, u tempel deur ons sondes onrein sal maak nie. Mag ons ons aan God as kinders oorgee; mag ons U voortdurend verheerlik deur gehoorsaamheid totdat ons u heerlikheid sien. Nou sien ons u heerlikheid net in u Woord weerkaats deur Jesus Christus ons Here. Amen.

 

Hierdie gebed is deur Johannes Calvyn (1509 – 1564) geskryf. Hy was ‘n teoloog, administrateur en herder. Hy is in Frankryk gebore. Sy ouers was streng Rooms-Katolieke. Hy werk die grootste deel van sy lewe in Genève waar hy die Gereformeerde Kerk georganiseer het. Hy het The Institutes of the Christian Religion, die Geneva Catechism, as ook verskeie Skrifkommentare geskryf.

Hierdie gebed kom uit  “A Prayer of John Calvin” in General Liturgy and Book of Common Prayer, voorberei deur Samuel Miles Hopkins (New York: Barnes, 1883), 47.

 

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.