‘n Nuwe Kategismus: Vraag 20

 “Prayer is a sincere, sensible, affectionate pouring out of the heart or soul to God, through Christ, in the strength and assistance of the Holy Spirit, for such things as God hath promised, or according to the Word, for the good of the church, with submission, in faith, to the will of God.” – John Bunyan, 

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 20

Vraag:

 Wie is die Verlosser?

Antwoord:

Die enigste Verlosser is die Here Jesus Christus, die ewige Seun van God, in wie God mens geword het en dus self die straf vir die sonde gedra het. [Onderstreepte gedeelte is die antwoord vir kinders.]

 

 Teksgedeelte:

Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus (1 Timoteus 2:5)

 Kommentaar:

Ek sien ‘n wonderlike en nuwe geheim. My ore hoor die lied van die Herder, nie ‘n sagte melodie nie, maar ‘n hemelse lied gesing uit volle bors. Die engele sing. Die aartsengele se stemme vloei saam in ‘n harmonie. Die engele sing hulle vreugdevolle lof. Die engele verheerlik Hom. Almal loof hierdie heilige fees, sien die Godheid hier op aarde en die mens in die hemel. Hy wat bo is, woon nou vir ons verlossing hier onder; en hy wat laag is, word deur God se genade opgewek … Moenie vra hoe nie: Waar God wil gee die orde van die natuur toe. Hy wou; Hy het die mag gehad; Hy het afgedaal; in gehoorsaamheid aan God het Hy alle dinge verlos …Hy was God, maar word ‘n mens, maar Hy het nie van die Godheid wat syne is, afgeskei nie. Hy word mens sonder om van sy goddelikheid te verloor; Hy word weer God uit ‘n mens. Hy is die Woord wat mens geword het, maar sy wese het nie verander nie. Hy was nog altyd daar, God se enigste Seun; hy kan nie aangeraak of waargeneem word nie. Hy was sonder liggaam, maar het nou my liggaam aangeneem – sigbaar en blootgestel aan versoekings.  Hoekom? … Die Almagtige word ‘n baba; Hy wat op die hemelse troon sit, lê in ‘n krip. Hy wat nie aangeraak kan word nie, lê daar oorgegee aan die hande van mense. Hy wat die bande van sonde verbreek het, lê daar gebind deur die bande van ‘n baba. Hy verklaar dat skande eer sal word, en totale nederigheid word die maatstaf van sy goedheid. Daarvoor het Hy my liggaam aanvaar sodat ek bevoeg vir sy Woord kan wees. Hy gee aan my sy Gees; Hy gee en ek ontvang .  Hy berei my voor vir die skat van die lewe. Hy neem my liggaam en heilig my; Hy gee my sy Gees sodat Hy my kan verlos … die krag van die dood is verbreek … die vloek is verwyder, sonde is van ons weggeneem, foute word uitgedryf en die waarheid kom terug … Hoekom? Want God is nou op aarde

 Hierdie kommentaar is deur Johannes Chrisostomus (347 – 408) geskryf. Hy was die aartsbiskop van Konstantinopel. Hy is in Antiogië gebore. Hy kry later die titel Chrisostomus wat “goue mond” beteken, want hy was so ‘n goeie prediker. Hy word deur beide die Oosters-Ortodokse en Rooms-Katolieke kerke as heilige erken. Hy is bekend vir sy Divine Liturgy of St. John Chrysostom, en sy groot aantal preke – insluitend 67 preke oor Genesis, 90 oor die Matteus-evangelie en 88 oor die Johannes-evangelie.

Hierdie kommentaar kom uit sy preek:  “Christmas Morning” in The Sunday Sermons of the Great Fathers, Volume 1 (Swedesboro, NJ: Preservation Press, 1996), 110–115.

 Verdere leesstof:

 “Covenant” in Concise Theology, deur  J. I. Packer.
“The Covenant” in A Faith to Live By, deur Donald Macleod.

 

Gebed:

Mag God gee dat ons weet dat as ons uit God gebore word, ons nie langer in sonde kan leef nie. Mag God gee dat ons weet dat sy Seun ‘n oog oor ons hou – Hy hou ons dop en beskerm ons.  Mag God gee dat ons altyd weet dat ons die versekering het dat ons aan God, ons hemelse Vader  en aan die Here Jesus Christus, sy kosbare Seun en ons Verlosser, en aan die Heilige Gees, wat Hy aan ons gegee het om Christus in ons te vorm en om ons voor te berei vir die heerlikheid wat op ons wag, behoort.

 

Hierdie gebed is deur David Martyn Lloyd-Jones (1899–1981), ‘n Walliese geneesheer en Protestante predikant geskryf. Hy word veral onthou  vir sy prediking en onderrig aan die Westminster kapel in Londen waar hy vir 30 jaar gewerk het. Hy het maande, soms selfs jare geneem om ‘n hoofstuk in die Bybel vers vir vers uit te lê Sy bekendste publikasie is sy kommentaar oor die Romeine-brief – 14 volumes.

Hierdie gebed kom uit Life in Christ: Studies in 1 John (Wheaton: Crossway, 2002), 690.

 

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.