1

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 31

Scripture is the womb from which arises divine truth and the church – Luther

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 31

Vraag:

Wat glo ons deur ware geloof?

Antwoord:

Alles wat vir ons in die evangelie geleer word. Die Apostoliese Geloofsbelydenis druk dit wat ons glo in hierdie woorde uit:

 

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.

En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode; wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.

Ek glo aan die Heilige Gees.

Ek glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;

Die vergewing van sondes,

Die opstanding van die vlees

En ‘n ewige lewe.

 

Teksgedeelte:

Maar nou voel ek my verplig om julle met my brief aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het (Judas :3)

 

Kommentaar:

Maar wat is geloof? Nie ‘n mening nie; nie ‘n aantal woorde nie; nie ‘n aantal menings, al is hulle ook waar,  wat saamgevoeg is nie. ‘n Aantal menings is net so min die Christelike geloof as wat ‘n string krale Christelike heiligheid is. Dit is nie aanvaarding van ‘n mening of ‘n aantal menings nie. ‘n Man mag met drie of drie en twintig geloofsbelydenisse saamstem; hy mag met die hele Ou en Nuwe Testament saamstem (ten minste in so verre as wat hy hulle verstaan) en tog geen Christelike geloof in hom hê nie … Christelike geloof … is ‘n goddelike oortuiging wat God in die harte van diegene wat glo, gedryf het  dat Hy met hulle deur sy Seun versoen is. Om te glo (in die Christelike sin) is om in die lig van die ewigheid te loop; en om ‘n helder beeld van en vertroue in die Allerhoogste te hê wat deur sy Seun met my versoen is.

 

Hierdie kommentaar is deur John Wesley (1703–1791) geskryf. Hy was ‘n Engelse prediker en teoloog. Hy, saam met sy broer Charles, was die stigters van die Engelse Metodiste beweging. Hy het meestal te perd gereis en het twee tot drie maal elke dag gepreek. Hy het meer as 40 000 preke gepreek. Hy was ook ‘n skrywer van liedere.

Hierdie kommentaar kom uit “Letter to the Rev. Dr. Middleton” in The Works of the Reverend John Wesley, Volume 5 (New York: Emory & Waugh, 1831), 757.

 

Verdere Leesstof

 “Apostles” in Concise Theology, by J. I. Packer.

 

Gebed:

Dit is reg om Vader, Seun en Heilige Gees te aanbid – die Drie-eenheid onverdeeld. Dit is reg om vir U te sing, te seën’ te loof, te dank , te aanbid oral waar U heers. U is God, onuitspreeklik, ondenkbaar, onsigbaar, onverstaanbaar, altyd Ek is: U en u enigste Seun en u Heilige Gees. U het ons tot bestaan gebring; en toe ons geval het, het U ons opgetel; U het niks ongedaan gelaat om ons na die hemel te bring en aan ons u koninkryk gegee het. Vir dit alles bedank ons U en U enigste Seun en U Heilige Gees vir alles wat ons weet en nie weet nie, vir die sigbare en onsigbare seëninge wat ons ontvang het. Ons sê, o Here: U is heilig, U en U enigste Seun en U Heilige Gees, groot is U heerlikheid. U het die wêreld so liefgehad dat U U enigste Seun vir ons gegee het, sodat almal wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Ons moet onthou dat dit alles vir ons gebeur het deur die kruis, die graf, die opstanding op die derde dag, die hemelvaart, die troon aan die regterhand, die tweede en heerlike wederkoms. Vir U loof ons, vir U dank ons; vir U sing ons, Here ons God. Amen.

Hierdie kommentaar is deur Johannes Chrissostomus (347 – 408) geskryf. Hy was die aartsbiskop van Konstantinopel. Hy is in Antiogië gebore. Hy kry later die titel Chrisostomus wat “goue mond” beteken, want hy was so ‘n goeie prediker. Hy word deur beide die Oosters-Ortodokse en Rooms-Katolieke kerke as heilige erken. Hy is bekend vir sy Divine Liturgy of St. John Chrysostom, en sy groot aantal preke – insluitend 67 preke oor Genesis, 90 oor die Matteus-evangelie en 88 oor die Johannes-evangelie.

Hierdie gebed kom uit The Divine Liturgy of St. John Chrysostom Archbishop of Constantinople (London: Joseph Masters, 1866), 61–63.

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.