‘n Ongelooflike verhaal

Achievements are good things until they become our gods. – Kyle Idleman

 

‘n Ongelooflike verhaal

Greg Lucas vertel hierdie verhaal.

Maar nou het God die lede, elkeen van hulle afsonderlik, in die liggaam gevoeg soos Hy dit wou hê. As almal saam net een lid was, hoe sou daar ‘n liggaam kon wees? Nou is daar wel baie lede maar net een liggaam … Inteendeel, die lede van die liggaam wat as die swakstes voorkom, is juis noodsaaklik, en dié wat vir ons minder mooi lyk, klee ons met groter sorg. So word ons minder aansienlike dele besonder mooi gemaak (1 Korintiërs 12:18 – 23).

 

Om met ons kind deur ‘n erediens te sit is nie maklik nie. Hy is 20 jaar oud en outisties. Hy het ‘n kognitiewe ouderdom van twee jaar. Hy kan nie praat nie, maar hy kan baie raas. Hy skop gedurig die stoel voor hom; hy klap hande as alles stil moet wees. Hy kan nie vir vyf minute stil wees nie. En tog is hy noodsaaklik vir die gemeente.

Mense met kinders met soortgelyke probleme woon gewoonlik nie eredienste by nie – hulle is te gespanne dat die kind almal se aandag sal aftrek. Dit is makliker om by die huis te bly. Maar nou sê bogenoemde gedeelte: Inteendeel, die lede van die liggaam wat as die swakstes voorkom, is juis noodsaaklik.  Noodsaaklik beteken tog nodig/onmisbaar (HAT). Hoe kan die swakste lede nou noodsaaklik wees?

Dis Sondagoggend. Jake en sy ouers sit in die agterste ry – nie omdat hulle onbelangrik is nie, maar vir strategiese redes – soms moet hulle vinnig uitgaan. Sy ouers sit alkante van hom. Hulle vryf beurtelings sy arms om hom kalm te hou.

Hierdie diens is anders. Die leraar is aan die einde van ‘n reeks oor Romeine en lees Romeine 16:16: Groet mekaar met ‘n soen van Christelike broederskap. Al die gemeentes van Christus stuur vir julle groete. Jake luister aandagtig toe die leraar die teks begin toepas. Die leraar eindig met ‘n paar vrae: “Hoekom wys ons nie meer teerheid en liefde in die gemeente nie? Hoekom groet ons nie mekaar met drukkies nie? Hoekom is ons bang om aan mekaar te raak?” Jake knik instemmend. Sy ouers kyk vir mekaar – oppas hier gaan iets gebeur. Toe sluit die leraar sy preek af: “Ons gaan vandag iets nuuts probeer. As ons afgesluit het, draai na die persoon langs jou en gee hom/haar ‘n drukkie. Wys liefde vir mekaar.”

Jy kan sommer die ongemak in die kerk aanvoel. Is die leraar ernstig? Moet ons aan mekaar raak? Is die gewone toevallige handdruk nie goed genoeg nie? Mense kyk na hulle bure – diegene wat hulle binnekort moet druk … en na die naaste uitgang. Jake sit op die punt van die stoel. Toe die leraar “amen” sê, kyk die mense benoud na mekaar. Party probeer selfs by die deur uitkom. ‘n Paar getroude paartjies omhels mekaar. Dit is duidelik die gemeente weet nie hoe om te reageer op hierdie uitnodiging om mekaar ‘n drukkie te gee nie.

 

En toe gebeur dit. Jake spring op en voordat iemand kon keer, hardloop hy na ‘n ouer man wat ongemerk probeer uitsluip het – sonder dat iemand aan hom geraak het. Jake stamp hom amper van sy voete af en omhels hom. Nie saggies en kort nie … met mening. Sy pa moes letterlik vir Jake wegtrek van die man af. Die man is duidelik ontsteld. Sy privaatheid is daarmee heen. Maar terwyl Jake se pa hom probeer los maak en verskoning vra, sien hy trane in die ou man se oë. Hy glimlag so effens en met onseker arms druk hy vir Jake.

 

Hy was skaars los of daar gaan Jake en begin die mense ‘n drukkie gee – een na die ander. Hy lag; hy spring op en af;  hy druk die een persoon na die ander. Die gemeente kyk en kyk en ontdek wat noodsaaklik beteken. Meteens begin ander mekaar ook ‘n drukkie gee. Die langstaande grense om gemaksones en persoonlike trots verdwyn. Mense lag en huil en gee mekaar drukkies. En in die middel staan Jake.

 

Daardie Sondag begin iets nuuts vir Jake en vir die hele gemeente aangevuur deur Jake. Nou sit hy elke Sondag en wag vir die einde van die diens – nie om huis toe te gaan om TV te kyk of te gaan rus, Hierdie dinge is nie in sy gedagtes nie. Nee, hy wag om die boodskap toe te pas en God te eer en Christus te verheerlik met vreugde.

 

Elke Sondag na die preek begin die ware aanbidding. ‘n Outistiese seuntjie wat gestremd is en nie kan praat nie skyn soos ‘n helder soeklig van God se genade vir die lidmate om te sien en te verstaan: Maar nou het God die lede, elkeen van hulle afsonderlik, in die liggaam gevoeg soos Hy dit wou hê. As almal saam net een lid was, hoe sou daar ‘n liggaam kon wees? Nou is daar wel baie lede maar net een liggaam … Inteendeel, die lede van die liggaam wat as die swakstes voorkom, is juis noodsaaklik, en dié wat vir ons minder mooi lyk, klee ons met groter sorg. So word ons minder aansienlike dele besonder mooi gemaak (1 Korintiërs 12:18 – 23).

Jake, die swakke, is noodsaaklik vir daardie gemeente.