1

‘n Oorywerige geloof (1)

 

Resolved: that every man should live to the glory of God. Resolved second: that whether others do this or not I will. —Martin Luther

 

‘n Oorywerige geloof (1)

Larry Osborne het ‘n baie interessante boek, Accidental Pharisees, geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs daaraan spandeer.

 

‘n Passievolle geloof mag ‘n donker kant hê. Vra vir Jesus. Toe Hy as mens op aarde opgedaag het, wou diegene wat hulleself as God se grootste bewonderaars beskou het, niks met Hom te doen gehad nie. Hulle wou Hom stilmaak. Toe hulle nie daarin slaag nie, maak hulle Hom dood – duidelik passie wat skeefgeloop het. Die Fariseërs is nie die enigste voorbeeld nie – dink maar aan die Kruisvaarders en die Inkwisisie.

 

Toevallige Fariseërs is mense wat ten spyte van die beste bedoelings en ’n begeerte om God te eer, onwetend ‘n oorywerige model volg wat die werk van die Here saboteer. Geestelike ywer is nie ‘n slegte ding nie: Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here (Romeine 12:11). Maar hier het ons te doen met ywer vir die Here wat nie in lyn met die Skrif is nie.

 

Meeste mense dink dit is iemand anders se probleem. Ons sien dit nie in onsself nie. Hoekom nie? Omdat ons dit nie sleg bedoel nie. Dit is die gevolg van blinde kolle. Dit maak nie saak of oorywerigheid die gevolg is van ‘n keuse of per ongeluk nie – dit maak alles deurmekaar, dit maak almal seer, dit is ‘n verleentheid vir die Koning. Ons is veronderstel om stryery te vermy en in liefde mense wat ons teenstaan te onderrig. Om die geloof te verdedig, is ‘n goeie ding, maar dan moet ons dit doen met liefde en goedheid.

 

Niemand begeer om ‘n Fariser te wees; niemand kyk ooit in die spieël en sien ‘n Fariseër nie. Die woord beskryf altyd iemand anders. Maar Fariseërs is mense soos ons – hulle het God en die Skrif lief en probeer daarvolgens lewe. Niemand beplan om ’n Fariseër te wees nie – jy eindig net daar.

 

Die reis begin gewoonlik onskuldig. Sendinguitreik, ondervinding in ‘n kleingroep, ‘n nuwe Bybel onderwyser – open jou oë vir dinge wat jy nog nie vantevore gesien het nie. Jy begin in geloof; jy maak groot veranderinge; jy maak gebiede van sonde en kompromieë in jou lewe skoon; jy voeg nuwe geestelike dissiplines by. Jy sien gou dat sekere mense agterraak. Nou kan jou persoonlike najaag van heiligheid gevaarlik word. Jy word gefrustreerd met diegene wat nie jou passie vir die najaag van heiligheid deel nie. Dit is nou ‘n kritiese punt. As jy toelaat dat jou frustrasie lei tot afkeer en minagting vir mense wat jy agtergelaat het, is jy op ‘n gevaarlike ompad. Jy eindig met arrogansie. Minder en minder mense voldoen aan jou definisie van ‘n dissipel. Om reg te wees, is nou belangriker as om vriendelik en liefdevol te wees. Uniformiteit is belangriker as eenheid. Jy is nou op ‘n plek waar jy nie wil wees nie.

 

Vandag, as ons woord Fariseër hoor, dink ons aan valsheid, engheid, opgepofde geestelike verloorders. In Jesus se dae was dit ‘n eer om so genoem te word. Fariseërs was ywerig vir God, volledig toegewy aan hulle geloof, meesters van die Bybelse tekste; gehoorsaam aan selfs die mees obskure opdragte. Maak selfs ekstra reëls vir ingeval hulle iets mis. Hulle het die geestelike dissiplines ywerig beoefen. Soms bietjie hard en arrogant – meeste van hulle tydgenote aanvaar dit. Hulle betaal ‘n prys wat niemand anders bereid was om te betaal nie. As jy na die hoogste mate van toewyding wil verwys, speel jy die Fariseër kaart.

 

Jesus en Paulus het hierdie kaart gespeel. Daarna kyk ons volgende keer.