1

‘n Paar verkeerde sienings van dissipelskap

“Forgiveness isn’t an end in itself. The point of forgiveness is to remove the barrier that stands between us and God so that He can give us His Spirit and bring us into His everlasting family.”

– Darrell Bock, Real Lost Gospel 

‘n Paar verkeerde sienings van dissipelskap

Daar word vandag baie oor dissipelskap gepraat. Ook vir Jesus was dit belangrik – Hy plaas dit in die hart van dy Groot Opdrag: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels. In die Weste beleef dissipelskap moeilike tye. Ed Stetzer sê dat ons huidige model stukkend is. Hy noem vyf gebiede waar ons model stukkend is:

 

  • Ons dink dissipelskap en Bybelkennis is dieselfde ding. Natuurlik kan ons nie geestelike groei sonder kennis van die Bybel nie, maar ons reduseer dikwels die dissipelskapproses tot ”Lees dit. Bestudeer dit. Memoriseer dit.” Dissipelskap is om meer soos Jesus Christus te wees: Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die eerste is (Romeine 8:29) Die sleutel is nie inligting nie, maar transformasie – om meer soos Christus te wees. Dit gaan nie oor kennis in die algemeen nie, maar om Jesus Christus beter te ken. Om soos Hy te probeer wees, sonder sy krag, is ‘n hopelose taak.
  • Ons probeer dissipelskap programmeer. Dissipelskap is nie ‘n ses weke kursus nie – dit vereis die najaag van kennis plus doelbewuste optrede. Ons gee boeke en bied kursusse aan, maar wat potensiële dissipels nodig het, is ‘n lewe. Toe Jesus dissipels gemaak het, het Hy hulle met Hom saamgeneem sodat hulle sy bediening kon sien. Ons moenie net mense vertel wat dissipelskap is nie – ons moet vir hulle wys. Mense soek betekenisvolle verhoudings en nie net ‘n dissipelskapklas nie.
  • Ons stel dissipelskap gelyk aan ons prediking. Prediking kan nooit die gemeente se dissipelskapstrategie wees nie: “As mense net na my preke luister, sal hulle geestelik groei.” Dissipelskap is ‘n daaglikse proses – dit is nie ‘n gebeurtenis wat elke Sondag plaasvind nie – dit is daaglikse toewyding.
    • Ons glo dat ons sonder enige inspanning kan groei. Baie mense glo dat God hulle verlos het en al wat van hulle verwag word, is om elke Sondag die erediens by te woon en van die “groot” sondes weg te bly. Dit is nie wat ons in die Skrif lees nie: Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe (Filippense 2:12). Dissipelskap vereis ‘n doelgerigte  poging. Die groeiproses van gelowiges is ‘n stap-vir-stap proses. Die toelê waarvan Paulus hier praat, beteken nie dat ons nou self ons eie verlossing kan bewerk nie. Dit is deur genade en geloof. Jy kan nie ‘n verhouding met God verdien nie. Dallas Willard stel dit so:Grace is not opposed to effort, it is opposed to earning.”
    • Ons bied nie praktiese stappe aan nie. Om die gemeente se verbruikerskultuur te verander vereis ‘n doelgerigte dissipelskapplan en strategie. Ons moet mense aanmoedig om vas te staan in hulle geloof, uit te gaan in die wêreld en deel van ‘n klein groepie te wees. Gee aan mense stappe en mense saam met wie hulle hierdie pad kan loop.

 As ons aanvaar dat ons dissipelskapplan Bybels gegrond is, is die besonderhede daarvan nie so belangrik soos die implementering en kommunikasie daarvan nie. Om die uitdagings van opregte dissipelskap te identifiseer en jou toe te wy aan ‘n proses wat hierdie uitdagings hanteer, is die eerste en noodsaaklike stap vir ‘n gemeente vol dissipels.