‘n Profeet soos Moses (1)

image_pdfimage_print

 

“Cowardice asks the question, is it safe? Expediency ask the question, is it politic? Vanity asks the question, is it popular? But, conscience ask the question, is it right? And there comes a time when we must take a position that is neither safe, nor politic, nor popular, but one must take it because it is right.” (Martin Luther King, Jr.)

 

‘n Profeet soos Moses (1)

Ek sal ‘n profeet vir julle na vore laat kom, een van julle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel (Deuteronomium 18:18). Hier gee God aan Moses die belofte van ‘n toekomstige profeet. Hierdie profeet sal ‘n volksgenoot van Moses wees – ‘n Israeliet of Jood. Hierdie profeet sal soos Moses wees – Hy sal uitstaan sodat die mense Hom sal erken.

 

Hoekom is dit belangrik? Ons kry die antwoord in verse 15 en 16: Die Here jou God sal ‘n profeet onder jou na vore laat kom, een van jou volksgenote. Hy sal soos ek wees. Vir hom moet jy gehoorsaam. Dit sal wees soos destyds toe die gemeente by Horeb bymekaargekom het en jy vir die Here jou God gesê het: Ék kan nie weer ‘n keer die stem van die Here my God aahoor en weer na die groot vuur kyk nie, want dan sterf ek.’’ By Horeb (ook genoen Sinai) het God die Israeliete na hulle vertrek uit Egipte ontmoet. Hierdie was ‘n dramatiese verskyning van God: donderslae, weerligte, rook op die berg, die klank van die ramshoring – en uiteindelik praat God self.

 

Die volk bewe van angs en bly op ‘n afstand staan. Hulle was bang dat God dalk met hulle sou praat, want dan sal ons sterf (Eksodus 20:19). Hulle pleit dat God eerder met Moses moet praat. Mense sien God as te groot om direk met Hom te praat. Luister na Paulus: Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig. Geen mens het Hom gesien of kan Hom sien nie. Aan Hom kom toe eer en ewige mag (1 Timoteus 6:16).

 

Israel het iemand nodig gehad om hulle voor God te verteenwoordig – ‘n middelaar. Dit was Moses. Hy dra God se boodskappe aan die volk oor, maar hy lê ook die mense se behoeftes aan God voor. God weer dat mense in die toekoms ook ‘n Middelaar nodig sou hê. Daarom die belofte in Deuteronomium 18:18 van ‘n ander Profeet wat sou kom.

God besef dat mense antwoorde vir die baie probleme van die lewe nodig het. Ons moet gedurig keuses maak oor hoe om te leef. Die probleem is dat ons dikwels op die verkeerde plekke antwoorde soek. Moses waarsku die volk teen besweerders, towenaars, goëlaars, slangbesweerders of iemand wat geeste om inligting vra en dooies raadpleeg nie (Deuteronomium 18:9 – 13). Mense het al hierdie metodes gebruik, maar God waarsku daarteen, want Hy wou hulle van vals antwoorde weerhou.

 

In Jeremia 27:9 – 10 lees ons: Julle moenie luister na julle profete, julle droomuitlêers, julle towenaars, julle goëlaars wat vir julle sê om nie die koning van Babel te dien nie. Dit is vals profete wat vir julle optree, en daardeur sal julle ver weggevat word uit julle land. Ek sal julle verban en julle sal omkom. God gee vir die mens ‘n pad  waar hy al die antwoorde kan kry. Net nadat God teen allerhande vals profete gewaarsku het (Deuteronomium 18:9 – 13) gee Hy aan hulle die belofte van ‘n nuwe profeet – soos Moses (Deuteronomium 18:18).

 

Hierdie boodskap van God is waar en betroubaar en ons kan dit met gerustheid volg. Hoekom? Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel. Wat duidelik is uit hierdie gedeelte is dat die mens ‘n middelaar nodig het en dat God self hierdie Middelaar voorsien.

 

 

image_pdfimage_print