‘n Unieke optrede wat aan ‘n omvattende behoefte voldoen: die kruis (1)

Blog242

“There is not one blade of grass, there is no color in this world that is not intended to make us rejoice.”– Johannes Calvyn (1509-1564)

 

‘n Unieke optrede wat aan ‘n omvattende behoefte voldoen: die kruis (1)

Dat Jesus  vir ons sondes gesterf het, is seker dié deel van die evangelie wat die meeste beklemtoon word. Maar die idee dat ons aanspreeklik is aan ‘n Skepper gaan nie vandag meer goed af nie. Ons is geneig om ons eie pad te loop en God te ignoreer. Hierdie wanverhouding tussen ons aanspreeklikheid en ons optrede is die beginpunt van alle menslike behoeftes.

 

Wat vereis ‘n verhouding met God? Wat verwag Hy? Vier gedeeltes help ons.

  • Miga 6

In Miga 6 maak God ‘n hofsaak teen sy mense met die skepping as getuie. In hierdie teks sien ons wat God van die mens verlang.

Hoor wat die Here sê: Maak klaar, roep die berge op as getuie, laat die heuwels hoor wat jy te sê het. Berge, vaste fondamente van die aarde,  julle moet luister na die saak wat die Here het. Die Here het ‘n saak teen sy volk, Hy het Israel aangekla. My volk, wat het Ek jou aangedoen? Hoe het Ek jou moeggemaak? Antwoord My! (6:1 – 3).

Wat het ek verkeerd gedoen, vra die Here vir sy volk wat Hom verwerp het. Hulle sou goed besef het dat hierdie ‘n retoriese vraag is. Dit is nie God wat verkeerd gedoen het nie, maar sy mense. God was getrou; sy mense was ontrou.

 

Daarna vertel God vir hulle dat Hy hulle uit Egipte, die plek van slawerny, gered het; Hy het vir hulle leiers soos Moses en Aäron gestuur … Hulle moet God se trou onthou; hulle moet onthou waaroor die paasfees gaan. Nou skielik verander die trant van die gesprek. Nou hoor ons die stem van die sondaar. Hy wil weet wat kan vergoed vir die mense wat nie God se teenwoordigheid en goedheid waardeer het nie. Offers? Olie? Selfs: Moet ek my eersgeborene offer vir my sonde? Dit is sekerlik ‘n groot genoeg offer om God tevrede te stel. Maar God sê: Nie een van hulle nie. Ons soel altyd die groot dinge, maar God soek nie altyd die groot dinge nie. Hy soek iets eenvoudiger.

Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God (6:8). Eenvoudig, maar moeiliker. God vra dat ons Hom respek sal bewys en om daardie respek oor te dra deur ons verhouding met ander. Om dit nie te doen nie, is sonde. God se probleem met sy mense is nie dat hulle verkeerd offer nie, maar hulle gewilligheid om voordeel uit ander te trek. Dit beskryf die profeet in 6:9 – 12. Dit gaan oor geweld, leuens, bedrog, roof, ens. In die res van die hoofstuk sê Miga dat God nie sulke gedrag ignoreer nie. Ons verhouding met Hom se basis is ons aanspreeklikheid teenoor Hom.

 

Miga sou presies dieselfde gesien het as hy vandag ons koerante sou lees. Ons leef op ‘n wyse wat nie God se begeerte vir sy skepsels weerspieël nie. As ons ons eie pad loop, laat God soms toe dat ons die gevolge van ons keuses oes; soms gryp Hy in om ons aandag te trek. Maar God hou ons altyd aanspreeklik.

 

Hoe reageer God op die situasie. Daarvan lees ons in Miga 6:13 – 16. God oordeel ons. Die volk sien duidelik dat God nie sonde ignoreer nie. Soms oordeel God onmiddellik; soms wag Hy tot aan die einde, maar ons bly altyd aanspreeklik.

 

Volgende keer kyk ons na verdere teksgedeeltes van God se unieke optrede wat ‘n omvattende behoefte van die mens hanteer.